Hulle was netjies geklee en het glad nie soos skurke gelyk nie, maar die volgende oomblik het dié twee mans, vermoedelik iets in die 20, met messe in die voertuig van ’n Paarlse meter-taxibestuurder gespring en hom van sy besittings beroof.
Só het ’n meter-taxibestuurder van Groenheuwel in Paarl-Oos vertel nadat hy Sondag (30 Junie) deur twee mans in Van der Stelstraat beroof is.
Die bestuurder, wat om veiligheidsredes nie sy naam wil laat publiseer nie, het aan Paarl Post gesê hy het ’n versoek van ’n passasier ontvang om naby die Gemsbok-woonstelle in Paarl-Oos opgelaai te word. Die passasier was glo onderweg na Klein Parys.
“Ek het die versoek rondom 11:00 op die inDrive-app gekry. Die ou het gesê ek moet hom in Van der Stelstraat kry, want hy wou nie hê ek moes Chicago ingaan nie omdat dit volgens hom te gevaarlik is.
“Daai woorde het my toe juis gerusgestel,” vertel die taxibestuurder.
Toe hy op die hoek van Van der Stel- en Meakerstraat naby die Gemsbok-woonstelle vir die passasier stilhou, het die kliënt “heel ordentlik” gelyk.
“Nog ’n hele paar jong mans het daar rondgestaan.
“Hy (die kliënt) het toe vir my sy foon gewys om te wys dat hy die trip versoek het.
“Toe ek my deure oopsluit, toe spring hy voor in en nog een agter. Elkeen van hulle was met ’n mes gewapen.
“Die een agter het ’n mes teen my nek gedruk. Die ander een het voor [met die mes in sy hand] gevat wat hy kon kry.
“Ek het nog gevra hulle moet net my rybewys moet gee en die res kan hulle maar vat. Hulle wou nie eens dit doen nie. Ek kon toe hoor hulle raak moeilik. Hulle het begin vloek. Net daar het ek besluit ek moet net lewend hier uitkom.”
Volgens die bestuurder is sy beursie, selfoon en kleingeld gesteel.
Hy sê hy vermoed die verdagtes is albei in hul vroeë twintigs.
Hy het die rooftog dadelik by die Paarl-Oos-polisiekantoor gaan aanmeld, wat net ’n klipgooi weg is van waar die rooftog plaasgevind het.
Volgens die bestuurder het die polisie glo gesê ’n aantal soortgelyke voorvalle van roof het die afgelope tyd in daardie gebiede plaasgevind.
Die bestuurder sê hy het intussen sy bankkaarte gestop en is besig om ’n nuwe rybewys te kry.