Stel jou hierdie voor – jy hou stil by ’n rooi verkeerslig en skielik sak ’n hulpelose ma op jou voertuig toe met haar jong kind aan haar sy, albei histeries en in trane. In daardie oomblik soek hulle nie na geld nie, maar vra net hulp. Wat doen jy?
Dit is presies wat met Marise Kock van die Paarl op 8 Oktober net na 16:00 gebeur het. Sy vertel dit was by die verkeerslig by die Paarl-hospitaal in Bergrivier Boulevard.
“Deur my toe venster het sy smekend gepleit vir iets. Ek neem dadelik aan dis vir geld en skud net my kop en sê nee. Sy het eenvoudig aangehou en duidelik gemaak dat dit nie geld is waarvoor sy vra nie, maar waarheen ek op pad is want sy moet net tot by die highway kom. My hart en kop het baklei, want ek weet ’n mens kan niemand vertrou nie en veral nie vreemdelinge in jou kar laai nie. Maar my hart is seer vir die kind en in daardie oomblik van vinnig dink, voordat die verkeerslig groen gaan, trek ek eenkant af om hul op te laai. Die vrou gebruik die naam ‘Mercia’ en die dogter se naam, wat ek nie kan onthou nie, was op haar sweetpakkie borduur.”
Hoewel Kock se hart en kop baklei het oor haar besluit, was haar instinkte nie verkeerd nie, want die “desperate en tranerige” vrou met haar kind is deel van ’n bedrogspul.
“ ‘Mercia’ het so gehuil dat sy amper nie ’n woord kon uitkry nie. Sy het so verskoning gevra dat sy so snik en toe met die storie begin dat sy van Klapmuts tot Paarl moes gaan om finansiële hulp te kry by verskeie organisasies sodat sy haar verblyf in Parow kan betaal, maar kon by niemand regkom nie.
“Sy het verduidelik dat al haar geld aan haar ma bestee is weens haar ma se kanker; ook dat sy nie nou werk het nie, maar sy gaan binnekort ’n werk begin waar sy R300 ’n dag gaan verdien.
“Haar kommer was as sy nie geld gaan hê vir daardie aand se verblyf nie, sou hulle twee op die straat beland. Sy vrees vir haar dogter se lewe. Ek wil nog ewe verskoning vra dat ek nie dadelik wou help nie. Ai, toe sê sy, ‘asseblief mevrou, bid net vir ons – dis al wat ons nou kan red’.”
Kock besluit toe om die tweetjies by Paarl Mall af te laai sodat hulle ’n taxi terug Parow toe kan kry. Sy gee vir hulle die paar rand wat sy het sodat “Mercia” vir haar en die dogtertjie se taxifooi kan betaal. Kock het ’n ekstra paar rand gegee vir ’n koeldrank en ietsie om te eet omdat dit ’n warm dag was.
“Net voordat ons tot stilstand gekom het, het sy gevra of sy net ‘die oom’ by wie sy die kamer huur, van my foon mag bel om te sê dat hulle nie reggekom het nie en dat hulle terugkom Parow toe. Hy moet asseblief nie hul kamer opgee nie.
“Ek bel toe die nommer en sy praat op die luidspreker. Hy antwoord en verduidelik as sy nie die geld kan betaal nie, kan hy nie verblyf verskaf nie. Sy druk toe die foon in my hand en sê ek moet hom asseblief smeek dat hy dit nie moet doen nie. Hy verduidelik ewe aan my dat hy ongelukkig nie vir hul verblyf kan gee as sy nie betaal nie. Ek het met die foon in my hand gesit sonder om te weet wat om aan hierdie man te sê en druk toe die foon dood.
“Ek het haar gesê ek het gehelp soos ek kon, ek is verder nie meer betrokke nie. Sy en die dogter, met trane wat oor die wangetjies rol, het heel moedeloos uitgeklim sonder om te groet of dankie te sê vir dit waarmee ek wel gehelp het. Sy wou natuurlik hê ek moes geld gee vir die verblyf, veral nadat ek nou met die man gepraat het.”
Kock vertel sy was briesend kwaad vir die vrou se ondankbaarheid, maar ook omdat sy haarself in die posisie geplaas het.
“Enigiets kon skeefgeloop het in daardie kar met hierdie vreemdeling. Ek was kwaad dat ’n ma en kind in so ’n situasie moet wees, en ek was kwaad omdat ’n mens nie meer in vandag se tye weet wanneer jy regtig iemand help en of hulle jou hulp misbruik nie.
“Toe ek by die huis kom en my man vertel, was hy so ontsteld dat ek vreemde mense in my kar gelaai het. Hy sê toe hy is 100% seker dat ek nou net deur ’n skelm uitgevang is, want nie lank gelede nie het een van sy kliënte, ook ’n vrou, vertel van die vrou en dogter wat hulle gehelp het. Ek besluit toe om haar te kontak, en sowaar as vet – die storie klop 100%.
“ ‘Mercia’ en die dogter het voor haar kar ingehardloop naby Drakenstein-sentrum [op die hoek van die Lustigan-pad en Wemmershoek-pad] en hulle tot stilstand gebring met dieselfde smekende storie dat sy asseblief net tot by die ‘highway’ moet kom.”
Paarl Post het uitgereik na die ander slagoffer, Anneline Gouws, wat bevestig het dat dieselfde met haar gebeur het. “Mercia” se storie was toe bietjie verdraai, want toe sy besig is om Gouws te bedrieg, het sy vertel dat sy moet gaan aanklop by ’n organisasie in Franschhoek omdat sy nie in Klapmuts en Paarl reggekom het nie.
“Ek sê toe vir hulle om vinnig in te klim, want ek staan toe by die verkeerslig, so voordat die verkeerslig groen slaan, moet ek iets doen. Ek sê toe vir die vrou ek gaan nie tot by Franschhoek nie; ek gaan hulle neem tot by Pearl Valley se hek en dan, vandaar af, sal hulle ’n plan moet maak om in Franschhoek te kom.
“My dogter was saam in die kar en ek moes haar by die huis kry, want sy het ’n ander afspraak gehad.
“Ek draai toe terug huis toe en toe ek by die huis kom, toe pla dit my nou verskriklik, want sy het toe in die kar vir my dieselfde hartseer storie vertel van haar ma wat kanker het, dat sy haar werk verloor het en dat hulle ’n kamer huur in Parow by iemand genaamd Kobus Louw.
“ ‘Mercia’ het tot vertel dat sy verkrag is deur haar kind se pa en dis hoe sy swanger geword het met die kind. Ek het by die huis gekom en my man vertel dit pla my nou dat die mense nou tot in Franschhoek moet loop. Ek voel ek moet hulle maar nou ’n lift gee tot daar.”
Gouws vertel dat ‘Mercia’ ook van haar foon af dié mnr. Louw gebel het, net soos wat sy met Kock gemaak het. Gouws het toe besluit om maar die ma en dogter te gaan oplaai en Franschhoek toe te neem, maar terwyl sy ry, het sy dié mnr. Louw teruggebel om te hoor of dit ’n ware storie is, en die man het “Mercia” se storie bevestig.
“Toe ek hulle oplaai, sê sy hulle kan nou nie meer Franschhoek toe gaan nie, want dit is te laat. Ek het gevra waar ek hulle dan moet aflaai en sy sê toe op die highway. My man was saam met my in die kar en hy sê toe ons kan mos nou nie vir haar met hierdie klein kind op die highway aflaai nie, want hoe gaan hulle in Parow kom? My man gee toe in en hy sê laat ons maar nou die twee tot by hul huis neem.
“So, toe klim ons nou op ’n Vrydagmiddag met die twee mense in die kar en ry al die pad Parow toe.
“My man het toe by ’n vulstasie stilgehou en R3 000 vir haar getrek sodat sy haar huur kan betaal. Sy was so dankbaar en het tot Gospel-liedjies in ons kar gesing.”
Toe hulle in Parow aankom, het “Mercia” gevra dat die Gouws-paartjie hulle iewers aflaai en nie by hul huis nie, want die gebied waar hulle woon is glo baie gevaarlik.
Dit was tot beide Gouws en Kock se skok toe hulle hoor dat hulle albei slagoffers was van dieselfde bedrogspul.
Hulle wil egter ander waarsku. Beide het “Mercia” beskryf as ’n bruinvrou met ’n merk aan haar linkerwang.
Geen amptelike klagtes is by die polisie aangemeld nie.