Dag in en dag uit staan talle inwoners in lang rye by die departement van arbeid se Paarl-kantoor in Bredastraat in die hoop om gehelp te word.
’n Man wat nie sy naam genoem wil hê nie, het sy misnoeë uitgespreek oor die wagtydperk by die plaaslike departement van arbeid se kantoor.
Die man sê hy het verlede Woensdag besluit om maar voor dié kantoor se deure te oornag sodat hy die volgende dag voor in die ry kan staan om gehelp te word.
“Ek, ’n gesinsman, het my gesin gelos en die nag daar voor hulle deure gaan slaap sodat ek die volgende oggend gehelp kan word. Dit is mos nie reg dat ’n mens dit moet doen net om ’n diens te kry nie,” het hy ontsteld laat hoor.
Hy sê hy was egter nie die enigste wat daar geslaap het nie – ander mense het dieselfde gedoen.
Talle mense vertrek ook douvoordag van hul tuiste in die hoop dat hulle nie te ver agter in die ry sal hoef te staan nie en die binnekant van die gebou sal haal voordat die kantoor se deure vir die dag sluit.
’n Vrou vertel dat sy vir haar ’n stoel saamgeneem en kos vir die dag ingepak het omdat sy geweet het “dit gaan ’n lang dag” wees.
’n Ander vrou sê sy het haar kinders by iemand gelos, maar dit was reeds haar tweede probeerslag om gehelp te word. Ander het geen ander keuse as om met hul baba of kleuter buite in reën of sonskyn te staan en wag nie.
En weens so baie mense wat hul werk verloor het, word die rye egter nie korter nie.
By navraag aan die departement van arbeid het ’n woordvoerder, Mapula Tloubatla, gesê die Paarl-kantoor ervaar ’n hoë toestroming van kliënte wat van Worcester, Somerset-Wes en Bellville kom, en dit plaas bykomende druk op die Paarl-kantoor. Sy sê verdere druk word ook ervaar wanneer werksure verlore gaan as gevolg van beurtkrag en wanneer die stelsel af is.
“Ons moedig kliënte altyd aan om arbeidskantore in hul eie gebiede te besoek om druk by die Paarl-kantoor te verlig. Die betaalpunte is by Malmesbury, Riebeek-Kasteel, Gouda, Saron, Porterville, Villiersdorp, Wellington en Franschhoek.”
Tloubatla sê die Paarl-kantoor werk daagliks van 07:30 tot 16:00 op weeksdae met sewe amptenare wat na kliënte omsien.
“Vir ses dae in ’n maand gaan die helfte van die voorstelinie-amptenare uit om dienste by ons betaalpunte te lewer.
“As bogenoemde uitdagings in ag geneem word, is daar gevalle waar nie alle kliënte gedurende die dag bygestaan ??kan word nie. Dienste word gelewer op ’n eerste-daar-eerste-bedien-basis.”
Tloubatla sê om die prosesse te bespoedig, moet kliënte seker maak dat hulle die korrekte dokumente het wanneer hulle die kantoor besoek.
“Alle navrae oor die werkloosheidversekeringfonds en indiening van eise vir voordele is aanlyn beskikbaar by www.ufiling.gov.za vir kliënte wat nie die kantoor wil of kan besoek en in die ry staan nie.”
Oor waar al die kliënte deur die dag van ablusiegeriewe gebruik maak, het Tloubatla gesê openbare toilette is wel beskikbaar in die kantoor vir die kliënte om te gebruik.