My hart is in seer gedompel. My hart is in pyn gedompel. Hierdie seer en pyn spruit uit die sinlose en barbaarse wyse waarop nog ’n mede-Suid-Afrikaner se lewe wreedaardig tot ’n einde gekom het. En elke keer as nog ’n sinlose moord die hoofopskrifte van koerante en sosiale media haal, dan laat dit ’n mens wonder waarheen ons land en hierdie wêreld op pad is.
Oor die jare heen het ons al van soveel hartverskeurende gevalle gelees, gehoor en gesien dat jy by tye sprakeloos en magteloos voel oor dit waartoe sommige mense in staat is. Die onlangse ontstellende wyse waarop ’n bekende geestelike leier tot sy einde gekom het, het my opnuut laat wonder oor die waarde van ’n mens se lewe in ons Suid-Afrikaanse konteks.
As land spog ons met die mees liberale grondwet in die wêreld. Hierin word die regte van elke landsburger vervat en beskerm. En tog ervaar ons in die praktyk ’n ander werklikheid. Dis vir soveel individue en groepe so maklik om die kosbare lewe van ander tot niks te reduseer. Die geestelike leier van wie ek vroeër melding gemaak het, het homself as “queer” of homoseksueel identifiseer. Die menseregte van alle Suid-Afrikaners word in ons Handves van Menseregte vervat en beskerm – ook die regte van hulle wat hulself as “queer” of homoseksueel identifiseer.
Die wrede moord van hierdie geestelike leier het opnuut die fokus geplaas op die mate van onverdraagsaamheid en diskriminasie wat heers teenoor hulle wat nie sodanig by die hoofstroom-samelewing “inpas” nie. En die skokkendste hiervan is dat die stemme wat die hardste skreeu, uit geloofsgeledere kom. Is die kerk of moskee of watter ander plek van aanbidding dan nie juis die plek waar almal tuis, aanvaar en veilig behoort te voel nie? Is dit dan nie die een instansie, ongeag denominasie of oortuiging, wat vrede, liefde, verdraagsaamheid, inklusiwiteit en hoop moet verkondig nie?
My hart is in seer gedompel. My hart is in pyn gedompel, want iemand se kind, iemand se kollega, iemand se vriend, iemand se vertroueling en iemand se held is wreedaardig vermoor net omdat hy die wêreld ’n beter en liefdevoller plek wou maak; net omdat hy ’n stem vir die randfigure in ons wêreld wou wees.
En vir dié van ons wat soos die hordes kommentare op sosiale media saamstem dat dit oukei is wat gebeur het, wil ek jou uitdaag om oor die volgende te dink . . .
Was jy daar toe ek vir die eerste keer my andersheid ontdek het? Was jy daar toe ek vreesbevange was oor die gevoelens wat ek in myself ervaar het en nie geweet het wat om daarmee te maak nie? Was jy daar toe ek nagte omgehuil en God gesmeek het om “die fout van andersheid” in myself reg te stel? Was jy daar toe ek desperaat van myself probeer wegvlug het in ’n poging om die pyn van verwerping deur ander vry te spring? Was jy daar toe ek uiteindelik moes vrede maak met die persoon in die spieël, want die hoop om “normaal te wees”, lê aan skerwe? Was jy daar toe ek vir jare moes worstel om sin te maak van my geloof oor hoe God my ook kan liefhê? Was jy daar?
Dis juis geloof in God wat die berusting en kalmte gebring het. Dis juis geloof in God wat die liefde in die harte van hulle wat sodanig “anders” is, aanspoor om stemme van hoop, liefde en lig na ander te kommunikeer. Dis juis die pyn en hartseer van self en ander wat jou aanspoor om ’n veilige hawe te wees vir dié wat smagtend is na aanvaarding en onvoorwaardelike liefde.
Wie gee ons dus die reg om ander te oordeel? Wie gee ons die reg om die lewe van ’n ander mens wreedaardig te beëindig? Wie gee jou die reg om iemand anders se lewe tot niks te reduseer net omdat God daardie mens soos jouself oneindig en onvoorwaardelik liefhet?
En as jy steeds onverbiddelik vashou aan jou teorie of geloof dat andersheid sonde of ’n swakheid is, dan bid ek dat jy iewers op jou lewenspad tot ander insigte sal kom.
Dan vertrou ek dat jy die pyn gespaar sal word van ’n kind of kleinkind wat hom of haar as “anders” identifiseer. Dan pleit ek dat jou hart van yster gelouter sal word en sal plek maak vir ’n hart vol liefde, deernis en begrip vir jou medemens; dat jy die vermoë sal ontwikkel om jouself in die skoene van ander te plaas en respek sal kry vir die storie van ander . . . ’n storie wat anders as jou eie kan wees.
Begeer ons almal op die ou einde nie maar dieselfde dinge in die lewe nie – om aanvaar te word, om ’n doelgedrewe lewe te lei en om die wêreld waarin ons leef (hoe gebroke ook al) ’n beter plek te laat as hoe ons dit gekry het? Die geestelike leier se seksuele oriëntasie was net ’n klein deeltjie van wie hy as mens was.
Ons is egter so geneig om net teen daardie klein deeltjie vas te kyk en te vergeet van al die ander dele wat ons unieke skepsels maak . . . mooi, liefdevol, barmhartig, diensbaar en gestroop van die begeerte om jou medemens enige leed aan te doen.
Nou ken ons net ten dele, maar eendag . . .