Hoër Meisieskool La Rochelle spog vanjaar met nuwe skoolrokke.
In Maart 2018 het Bergrivier-tekstiel die skool ingelig dat sy fabriek in die Paarl gaan sluit en daarom kan die materiaal vir die skoolrokke nie meer plaaslik gedruk word nie.
Hoewel die nuus ontstellend was, het dit die skool die geleentheid gegee om die nuwe materiaal in die oorspronklike kleur en ontwerp te laat druk, dus ’n replika van die rok wat in 1960 gemaak is.
Volgens Carol Cloete, eienaar van Larrie Boutique van die skool het die proses begin toe Allwear Manufacturing in Newcastle en Nicol van Wyk, direkteur van die maatskappy, na Thailand gereis het om die materiaal te ontwikkel en die eerste ontwerpe in te dien. Arthur Moore, agent van Arthur Moore Agencies, het die administratiewe werk en kliëntediens hanteer.
Die eerste voorlegging van die nuwe ontwerp is op 14 Januarie 2019 ontvang en is voorgelê aan die klerekomitee. Die ontwerp is afgekeur omdat daar nie ooreenstemming met die oorspronklike ontwerp was nie. Met die hulp van Janine O’Grady, Larrie-ouer en die eienaar van Makietie Designs, is ’n nuwe ontwerp in Februarie 2019 by die Thailand Fabric Company ingedien en is dit in Maart 2019 goedgekeur.
Die ontwerp is gedruk in Thailand en het in Julie 2019 in Durban-hawe aangekom.
Voorbeelde van die rok is in Newcastle gemaak en is op 20 September 2019 aanvaar nadat hulle die knope met kleiner knope vervang het en die sak borduur het. Dit was die eerste keer dat die nuwe rok gesien is en almal is dit eens dat die rok presies is wat hulle wou hê.
Die nuwe rokke het reeds aan die einde van Oktober aangekom. Die 2020-gr.8’s is dus die eerste graad wat almal die nuwe rokke dra.