’n Meisie wat maar net ses jaar oud is, het die harte van Wellingtonners gesteel. Mia Coetzee, of beter bekend as Mia the Brave, se Facebook-groep ter ondersteuning van die seldsame siekte wat sy het, het al 5 170 lede.
Clivus chordoma is in Februarie verlede jaar by Mia gediagnoseer nadat sy van maag- en nekpyn gekla het.
Dit is ’n soort kanker in die vorm van ’n gewas wat in die clivus, ’n beenagtige deel onder die skedel, groei.
Anja en Stephen Coetzee, Mia se ouers, het die blad geskep om die gemeenskap op hoogte te hou van haar toestand en om bewusmaking te skep.
Anja sê hoewel dit skaars is onder volwassenes is dit nog skaarser onder kinders. “Een uit elke 20 miljoen kinders word geraak waar volwassenes een uit elke miljoen geraak word,” vertel sy.
Mia se dokter het die gesin meegedeel dat sy die jongste pasiënt met clivus chordoma is wat hy nog behandel het. Anja sê dit was egter ’n stryd om Mia te diagnoseer. Sy is voorheen na ’n fisioterapeut verwys omdat haar nek styf was en ’n dokter het vir haar vitamine voorgeskryf. Nadat haar linkerogie in Februarie verlede jaar skeef begin trek het, het haar ma haar na ’n pediater geneem wat ’n breinskandering gedoen het.
Mia is ná verskeie toetse in Mei verlede jaar in Kaapstad geopereer. Dié operasie het nege uur geduur en die meeste van die gewas is toe verwyder en dokters moes vet van haar maag af en been uit haar heup verwyder om haar nek te stut nadat die kanker haar clivus laat disintegreer het.
“Sy het dadelik ná die operasie wakker geword en die dokters was baie tevrede met haar vordering en hoe vinnig sy haar nek kon regop hou,” vertel Anja. Met ’n biopsie van die gewas is toe vasgestel dat dit wel clivus chordoma was. Sy het tussen Junie en Augustus ses weke – vyf dae per week – bestraling ondergaan.
Mia was intussen relatief pynvry en het selfs in Februarie aan ’n wedloop vir kankerbewusmaking deelgeneem. Ongelukkig het Anja laat in April vanjaar uitgevind Mia se gewas is terug en chemo-behandeling was in Mia se geval nie ’n opsie nie omdat dit te straf sal wees.
Haar dokters is bereid om ’n nuwe immuuninhibeerder met die naam Nivolumab te probeer, maar dit kos R10 000 per week sonder hospitaalkoste. “As ons nie verdere behandeling gaan doen nie, sal Mia gemaklik en pynvry gehou word, maar sy sal net nog ’n paar maande leef,” vertel Anja.
Anja sê Mia se stokperdjies is kuns en om met haar fiets te ry en sy is lief vir kos.
“Sy was ’n besige klein meisietjie soos haar sussie, Lara,” sê sy.
Anja se raad aan ander ouers is om dit nie te ignoreer as hul kinders van pyn in die nek, rug of kop kla nie.
“Wees bedag vir die simptome,” waarsku sy.
Die Coetzee-gesin het ’n trust vir Mia gestig vir skenkings vir haar behandeling. Gemeenskapslede wat dit wil ondersteun, kan haar Facebook-blad besoek vir nog inligting en kontakbesonderhede.