Die toneel in Bartolomeustraat in Groenheuwel, Paarl-Oos, waar ’n negejarige meisie Maandagaand (10 Julie) in ’n brand gesterf het.Foto: Chantélle Hartebeest


Die gebrande sinkplate en brandrommel wat nog laat Dinsdagmiddag langs Bartolomeustraat in Groenheuwel, Paarl-Oos, gelê het, is ’n hartseer herinnering aan ’n brand wat tot die tragiese dood van ’n negejarige meisie gelei het.

Die kind se lewe is in ’n oogwink kortgeknip toe ’n brand Maandagaand (10 Julie) by die informele woning uitgebreek het wat sy met haar familie gedeel het. Nog twee kinders, ’n 14-jarige meisie en vierjarige seun, is in dieselfde voorval beseer.

Volgens Riaan Jonkers het hy en sy gesin, insluitend sy driejarige seuntjie en eenjarige dogtertjie, ook alles in die brand verloor. Hulle het reg langs die slagoffer en haar familie gewoon.

“Soos ek verstaan, het die ma die drie kinders – een is haar eie kind en die ander twee is haar suster se kinders – in die woning toegesluit en na haar suster toe geloop. Toe sy ná ’n tydjie terugkom ná load­shedding toe is die plek al aan die brand. Die een kind het doodgebrand en die ander twee is beseer, maar hulle is allright. Hulle is hospitaal toe geneem. Die twee meisies is susters, en die seuntjie is die vrou se kind.”

Beurtkrag was Maandagaand tussen 20:00 en 22:00 in die Paarl. Jonkers sê die brand het glo tussen 21:00 en 22:00 uitgebreek.

“Ten tyde van die brand was ek en my gesin nie by die huis nie – ons was op pad huis toe – maar ons het alles verloor. Ons klere, yskas, skootrekenaar, nog waardevolle besittings en selfs die nuwe bed wat ek nog nie eens op geslaap het nie. Die bed is nét afgelewer.

“Iemand het toevallig verby ons wonings geloop en die rook gesien. Die mense het uitgekom en geroep en geskree. Die persoon het probeer om die kinders by die struktuur uit te trek. Hy het die plate afgetrap en toe red hy twee van die kinders, maar dit was te laat om die derde kind te red.”

Jonkers voeg by dat ’n buurvrou van hom se woning net effens deur die brand geraak is, maar dit kon betyds gered word. Met Paarl Post se besoek aan die toneel kon die familie van die negejarige meisie nie opgespoor word nie. Jonkers het ’n paar treë weg van die toneel af gestaan. Hy en sy gesin sal nou vir tyd en wyl by sy skoonmense gaan woon totdat hulle weer hul eie woning kan kry.

Ernest Saayman, Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het bevestig dat Drakenstein se brand- en reddingsdienste om 23:04 ’n noodoproep oor die brand ontvang het.

“Met ons aankoms het ons ontdek dat twee wonings (een formele en een informele struktuur) geraak is. Vier inwoners het ligte beserings opgedoen. Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog onbekend en word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek. Drakenstein-munisipaliteit betuig sy innige meegevoel met die familie en geliefdes van die slagoffer.”

Paarl-Oos polisie het bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek geopen is en dat die saak ondersoek word. Niemand is in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.