“Net” 1 602 mense bly op straat in Suid-Afrika en daar is geen haweloses in Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap nie. Dis nou as jy die jongste syfers van die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) glo.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het hierdie skokkende syfers verlede week bekend gemaak op ’n vraag van die DA-LP Alexandra Abrahams.

Volgens die DMO woon 5 461 mense in nagskuilings.

Abrahams sê die minister se syfers is ver verkeerd.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het in 2015 geraam Suid-Afrika het sowat 200 000 haweloses. ’n Meer onlangse studie deur die organisasie Mould Empower Serve (MES) het getoon dit is ongeveer 100 000 haweloses. Volgens Leona Pienaar, hoof van MES, is sowat 14 000 haweloses in Kaapstad, 15 000 in Gauteng en 1 000 in Gqeberha.

Abrahams gee toe dis ingewikkeld om boek te hou van die aantal haweloses omdat mense kom en gaan, maar die departement se syfers is ongetwyfeld verkeerd as hulle vir drie provinsies geen haweloses tel nie. Verlede jaar het die departement gesê Limpopo het twee skuilings met plek vir 40 beddens. Waar is dié mense nou?

Verder het Abrahams gevra of haweloses in die afgelope sensus getel is?

“Hulle is ook Suid-Afrikaanse burgers met dieselfde menseregte wat ons almal het,” sê sy.

Volgens Pienaar wil MES met plaaslike regerings saamwerk om ’n laekostebehuisingsmodel te ontwikkel wat in die behoeftes van dié mense sal voorsien.

Abrahams sê nagskuilings is ’n goeie beginpunt om databanke van individue in stand te hou. Sy sê ’n nasionale – of selfs provinsiale – databank sal baie help om die oorsake van haweloosheid te identifiseer en oplossings te vind.

Lumka Oliphant, Zulu se woordvoerder, sê haweloosheid is nie net die verantwoordelikheid van die departement nie. Sy sê Suid-Afrika het 52 skuilings, maar Gauteng en die Wes-Kaap is al provinsies wat toegewyde begrotings het om haweloosheid te hanteer. Zulu se departement doen nou ’n studie oor haweloosheid met die oog daarop om ’n beleid saam te stel.

Die hawelosesyfers in Drakenstein volgens die Drakenstein-munisipaliteit se skatting lyk ook verdag.

Gerald Esau, direkteur van gemeenskapsdienste, het gesê in Wellington is die munisipaliteit bewus van 120 haweloses, en in die Paarl van 162.

Maar volgens NGO-bestuurders in die vallei is daar baie meer in die Drakenstein-vallei as wat deur die munisipaliteit beweer word.

Volgens een so ’n welsynaktivis in die Paarl, Mandie Erasmus van Heart NPO, het die vallei meer as 1 000.

“Haweloses het in die inperking uit die Kaap se oorvol shelters Paarl toe gestroom.

“Die jaar voor Covid het ons ’n hawelosesbewusmakingveldtog op ’n koue wintersaand gehou en self op straat geslaap. In dié nag het meer as 100 hawelose mense in ’n klein radius van Paarl-middedorp by ons aangeklop. Sedertdien is die situasie baie erger.”

Mandie sê verder hulle het in samewerking met die Manyano-sentrum ’n TUIS-inisiatief begin om haweloses by te staan. Eerder as net hand-outs uit te deel, beoog Mandie om saam met TUIS permanente oplossings vir haweloses te vind, soos werk.

“Ons het in ’n baie kort tydjie reeds drie suksesstories, dus ís dit doenbaar. Twee mense is huis toe na families en een gaan vandeesweek na ’n plek van veiligheid waar sy berading en behandeling sal kry – naby aan haar familie sodat hulle aan versoening kan werk totdat sy kan terugkeer.

“Die ding is – sodra ’n mens permanente oplossings begin soek, gaan jy begin oopkrap dat Paarl heeltemal onderontwikkel is ten opsigte van dienste soos ouetehuise, rehabilitasiesentrums, versorgingsentrums en tehuise vir geestelik versteurdes, om maar net ’n paar te noem.

“Paarl het hopeloos te min sulke fasiliteite.

“So, mense wat op straat en in nagskuilings is en kwalifiseer om by sulke plekke ingeneem, behuis en versorg te word, kan nie geakkommodeer word nie, want die een of twee van elke soort instansie wat bestaan, is reeds vol.”. The Drakenstein homeless situation is far bigger than the municipality makes it out to be.

You need to be Logged In to leave a comment.