’n Ondersoek is van stapel gestuur nadat ’n trein wat aan Metrorail behoort, Dinsdag (17 September) by die Dal Josafat-stasie in die Paarl ontspoor het en meer as 30 mense beseer is.
In ’n verklaring wat laat Dinsdagaand deur die Passasiersagentskap van Suid-Afrika (Prasa) uitgereik is, sê hy twee van die trein se passasierwaens het ontspoor en die oorsaak is steeds onbekend.
Die ontsporing het omstreeks 18:35 gebeur. Die trein was volgens Prasa van Kaapstad na Wellington onderweg.
Met Paarl Post se aankoms op die toneel kon die gehuil en geskree van beseerdes oor die hele stasie en platform gehoor word.
Reddingswerkers van beide die private en provinsiale sektor het tot omstreeks 20:00 gespook om minstens vyf mense wat in die wrak vasgekeer was, te red.
Reddingstoerusting, onder meer meganiese kake, is ingespan om die vasgekeerdes te red.
’n Passasier wat in een van agterste waens was, het aan Paarl Post vertel hulle het net ’n “harde slag” gehoor voordat die trein tot stilstand gekom het.
“Dit het amper gevoel asof ons teen iets gestamp het; asof daar iets op die spoor was.
“Ons almal het baie groot geskrik en het so gou as wat ons kon, die trein probeer verlaat,” vertel die man.
Hoewel Prasa in sy verklaring gesê het minstens 25 mense is beseer, het reddingswerkers op die toneel aan Paarl Post gesê meer as 30 beserings is aangemeld en beseerdes is per ambulans na verskeie hospitale in die omgewing vervoer.
“Ander passasiers op die trein is na hul huise vervoer.
“In hierdie stadium word die voorval nog ondersoek.
“Soos vereis deur regulasies, is die ongeluk by die spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) aangemeld.
“Ons dink aan die passasiers wat deur die voorval geraak is, en ons wens die beseerdes ’n spoedige en volkome herstel toe,” het Prasa in sy verklaring bygevoeg.
Niemand is in die voorval dood nie.