Die Klapmuts Medical Centre wat hom sedert Julie 2022 toegewy het om die gaping aan mediese hulp vir die gemeenskap te laat krimp het ook ’n groentetuin vir plaaslike behoeftiges help plant, wat reeds groot oeste lewer.
Dié sentrum het gepoog om sy uitreik na die breër Klapmuts-gemeenskap te laat groei en ook om ’n groentetuin vir die kweek van voedsame groente vir behoeftige pasiënte in Februarie vanjaar aan te lê.
Dr. John Frith, ’n algemene praktisyn wat die praktyk saam met dr André van der Westhuizen gestig het, het vroeër vanjaar aan Paarl Post vertel dat hulle ’n leemte in die bestaande beskikbaarheid van mediese dienste in Klapmuts en sy omliggende gebiede gesien het.
Tog, het hy verduidelik, behels dit soveel meer as net mediese sorg, maar ook die kultivering van gesonde leefstyle en eetgewoontes.
“Hierdie gebou was voorheen deel van die ou heuningfabriek in die dorp,” het Frith gesê.
“En met die beskikbare grond wat ons het, het ons saamgewerk met ervare plaaslike groenvingers, bekend as EPJ Kleinboerdery.”
Dié tuinmaakorganisasie is in Oktober verlede jaar deur Piet Prins, Jeremy van Kerwel, Jakobus Dirkse en Eron Jantjies, naamlik EPJ, gestig.
Prins, die voorsitter, het gesê tot dusver het hulle ’n reeds florerende groentetuin by Laerskool Klapmuts geskep.
“Dit is ook te danke aan soveel boere en besighede se ondersteuning.
“En nou, nadat die Klapmuts Medical Centre ons grond gegee het om ons groentekweekkrag nog meer uit te brei, is ons besig om groot oeste vir die gemeenskap op te lewer.”
Hierdie beskeie manne het vroeg vanjaar groente in een hoek van die sentrum se eiendom geplant toe dit nog in die ontwikkelingstadium was.
Prins het getuig hoe dankbaar hulle teenoor die sentrum is wat hulle gehelp en ondersteun het in die verskaffing van gesonde kos aan behoeftiges.
Só is kool, blomkool, spinasie, mielies en vele meer groentesoorte op die lappie grond gekweek. Die beskikbare kool wat geoes is, is vir die gemeenskap beskikbaar teen R15 elk, en so ook vir plaasmarkte teen R20.
Vir meer inligting oor die Klapmuts Medical Centre, kontak gerus die praktyk by 079 727 3042, of besoek dit by 82 Ou Paarlweg, Klapmuts.