Ishmet Davidson, hoof uitvoerende beampte van Media24 het vandag (18 Junie) bevestig dat die maatskappy die uitgawes van vyf gedrukte koerante sal sluit terwyl slegs drie van dié koerante digitaal sal voortleef.
Davidson het verder aangekondig dat al Media24 se gemeenskapskoerante, onder meer die Paarl Post, deur die Novus Holdings drukkery oorgekoop sal word.
“Die maatskappy het ook ’n aanbod aanvaar om sy portefeulje van gemeenskapskoerante en medialogistieke onderneming te verkoop. Konsultasies met personeel en die oordrag van die besighede wat verkoop is, begin vandeesweek,” luidens ’n Media24 persverklaring.
Die beplande ingrypings sluit die volgende in:
- Sluit die gedrukte uitgawes van Beeld, Rapport, City Press, Daily Sun en Soccer Laduma, asook die digitale (PDF-) uitgawes van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap, en die digitale inhoudsplatform SNL24.
- Behou Rapport, City Press en Daily Sun as slegs digitale handelsmerke.
- Verkoop On the Dot, die medialogistieke onderneming, en die portefeulje van gemeenskapskoerante aan Novus Holdings, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.
“In Suid-Afrika, nes elders in die wêreld, het verbruikers se voorkeure verander. Mense lees nou meer nuus as ooit tevore, maar verkies om dit op hul selfone of skootrekenaars te doen en uitgewers het geen ander keuse nie as om hierby aan te pas,” volgens Davidson.
“Gevolglik gaan die gedrukte media wêreldwyd al vir dekades onder strukturele dalings in sirkulasies en advertensies gebuk. Tesame met die stygende vaste koste vir die verspreiding van krimpende rakverkope, het dit ‘n verwoestende uitwerking op drukmedia bedrywighede.’
“As gevolg hiervan, hang die lewensvatbaarheid van ons titels in die noordelike streke al ‘n geruime tyd aan ‘n dun draadjie, en is die vooruitskatting dat hul gesamentlike verliese oor die volgende drie jaar tot R200 m kan beloop. Ná jare se moedige pogings, is daar nie meer enige vorm van besnoeiing of besparings oor om hierdie gedrukte koerante te red nie.’
As digitale handelsmerke sal Rapport en City Press deel wees van Netwerk24 en News24 onderskeidelik.
Beeld, Volksblad en Die Burger Oos-Kaap se lesers en intekenare sal steeds hul nuus op Netwerk24 kan lees.
Die Burger en Son in die Wes-Kaap word is die enigste twee koerante wat nie deur hierdie stappe geraak word nie.
“Hulle het ’n aparte infrastruktuur wat steeds haalbaar is danksy die meer gekonsentreerde plaaslike verspreiding en laer koste, en hulle is matig winsgewend.”
Die konsultasies sal na verwagting oor die volgende drie maande afgehandel word, met 30 September in die vooruitsig as die datum waarop die laaste uitgawes van die koerante sal verskyn wat deur die proses geraak word.
“Ons voorsien dat die voorgestelde herstrukturering kan lei tot die verlies van ten minste 400 poste, met nog 400 wat na Novus Holdings oorgeplaas word met die verkoopstransaksie, en sommige poste wat dalk ná 30 September nodig kan wees,” volgens Davidson.