Mededingende Top-12 lê voor

Die Sanlam-Boland-Top-12-rugbyliga, wat beskou word as die toppunt van die jaarlikse klubrugbyseisoen in die Boland, sal amptelik op 12 Oktober afskop.


Die Sanlam-Boland-Top-12-rugbyliga, wat beskou word as die toppunt van die jaarlikse klubrugbyseisoen in die Boland, sal amptelik op 12 Oktober afskop.

Die 12 klubs wat in vanjaar se liga gaan meeding, is Woensdag (25 September) by die Boland-rugbyunie (BRU) se hoofkantoor in Wellington bekendgestel.

Grabouw se Safcol United asook Robertson Town, wat mekaar verlede jaar in die Top-12-eindstryd gepak het, is weer deel van vanjaar se wedstryde.

Safcol het Robertson Town verlede jaar 29-27 in die eindstryd geklop. Dit was die eerste keer in die Grabouwse span se geskiedenis dat hy die Top-12-liga gehaal het.

Die BRU se meer as 200 plaaslike klubs oor ses streke heen, waaronder Weskus, Witsentraal, Overberg, Breëlangeberg, Swartland en Noordweste, ding jaarliks in hul onderskeie streke vir ’n plek in die Top-12 teen mekaar mee.

Uit die Weskus-streek het Vredenburg en Saldanha vir die liga gekwalifiseer, Robertson Town en Worcester Villagers uit die Breëlangeberg, die nuwelinge Ceres en Newtons uit Witsentraal en Abbotsdale en Darling sal die Swartland-streek verteenwoordig.

Vanrhynsdorp Eagles en Young Spurs is die twee klubs wat die Noordweste-streek aangevoer het.

Safcol en Caledon sal hul vlae vir die Overberg wapper.

Die verdedigende Safcol sal reeds in vanjaar se openingswedstryde teen Ceres op hul tuisveld in Grabouw te staan kom.

Benjamin Dwayi, Safcol se kaptein, het by verlede week se bekendstelling gesê sy span gaan sy titel probeer verdedig.

“Ons het ’n positiewe gevoel vir vanjaar se Top-12 aangesien ons ’n groter groep spelers het.

“Die positiewe gevoelens is nog altyd daar en ek glo ons kan dinge hierdie jaar weer so ver vat soos wat ons verlede jaar gedoen het.

“Ons bou dus op daardie momentum van die afgelope jaar se rugby wat ons gespeel het asook op verlede jaar se sukses wat ons behaal het.”

Jumainuine Arendse, die kaptein van Robertson Town, is ook positief dat sy span in vanjaar se liga gaan koning kraai.

“Ons het vanjaar ’n goeie seisoen gehad. Ons het gewis ’n gulde geleentheid om weer die eindstryd te haal as ons net doen wat ons moet doen. Ons het goeie afrigters en met hul leiding het ons ’n goeie kans om vanjaar te wen.”

Newton en Abottsdale is twee van sewe spanne wat vanjaar hul buiging in die reeks maak.

Hulle kom in die eerste ronde op 12 Oktober onderskeidelik teen Worcester Villagers en Vanrhynsdorp Eagles te staan.

Saldanha reis na Doringbaai om die nuwelinge Young Spurs aan te pak, terwyl Robertson Town tuis teen Darling sal speel.

Al 33 wedstryde in die liga sal weer regstreeks deur plaaslike stroomvennote gestroom word.

Die halfeindronde vind op 16 November en die eindstryd op 23 November in Wellington plaas.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.