Vuyo en Max is deesdae beste maats – soveel so dat Vuyo se verjaarsdagkoek versier was met ’n foto van hom en Max.Foto:


Die afgelope paar maande word Wellingtonners vermaak deur ’n man wat byna daagliks deur die strate wandel met ’n pragtige spierwit bulterriër.

En Max is behoorlik ’n bielie van ’n bulterriër.

Max is verlede jaar die eerste keer in die gebied van Bergstraat in Wellington gewaar waar sy “baas”, Vuyo, met hom aan ’n leiband probeer stap het.

Maar Vuyo is nou nie juis ’n spiertier nie en dit was behoorlik ’n “toutrekkery” tussen hom en Max – vir elke tree wat Vuyo die pad af wen, wen Max twee tree op.

Die kere wat Vuyo die een tree wen, is daar strepe in die teerpad soos Max sy naels in die pad ingeslaan het.

Nodeloos om te sê het heelparty verbygangers gestop om die petalje dop te hou – party ongelukkig agterdogtig oor Vuyo se bedoelinge.

Die arme Vuyo was teen daardie tyd al moeg, maar toe een van die omstanders hom vra wat die storie is, het hy steeds met ’n groot glimlag op sy gesig en in mooi Afrikaans vertel dat dit toe die eerste keer was dat hy en Max die strate in vaar.

Voor dit het Vuyo en Max vir agt maande by Max se huis eers “geoefen” om aan mekaar gewoond te raak.

Die verbyganger het toe aangebied om hulle huis toe te neem, want Max wou oënskynlik nie rigting inslaan nie, en Vuyo was teen hierdie tyd uitgeput en raadop.

Dit was toe ’n gesukkel om Max, wat byna soos ’n baksteenmuur gebou is, in die motor te kry.

By die huis aangekom was dit weer ’n groot gesukkel om Max uit die motor te kry, want Meneer Max ry dan toe alte lekker!

Soos die maande verbygegaan het, is die tweetjies gereeld langs die pad in Wellington gesien en intussen het Max ’n sonhoed begin dra met sonroom op die neus en ’n waterbottel word ook nie agtergelaat nie – Vuyo dra dit getrou saam, veral in die bloedige hitte in Februarie.

Max se ma, Lizel van Wyk, vertel dat Max al ses jaar oud is en nie gesond is nie. Die gestap, soms twee keer per dag, is net die medisyne wat hy vir sy olikheid nodig het.

Sy sê dat sy self nie die krag het om die reus van ’n Max te hanteer nie, en daarom is Vuyo en Max ’n daaglikse prentjie in veral Wellington-Wes.

Intussen het Vuyo met al die oefening effe sterker geword, maar hy en Max is nou baie goeie stapmaats.

Die twee is al so geheg aan mekaar dat wanneer Vuyo die dag nie by die werk is nie, raak Wellington se reus soos ’n stout kind met ’n dik mond, of eerder bek, vertel Lizel.

Vuyo is deesdae self baie geheg aan Max en is gou om sy selfoon uit te haal en ’n foto van sy verjaardagkoek te wys – ’n koek met ’n foto van hom en Max op!

So, moenie volgende keer net verby Vuyo en Max ry nie – stop gerus en knoop ’n geselsie met Vuyo en die reus van Wellington aan.

You need to be Logged In to leave a comment.