Ruben Joubert, ’n matriekleerder aan die Hoër Landbouskool Boland, is as Paarl Postse hoërskool-sportster vir September gekies danksy sy bydrae in tennis.
“Ek het in graad vier met tennis begin,” het Ruben vertel en ook verduidelik hiérdie balsport is nie net sy grootste sportliefde nie, maar sy enigste.
Ruben volg nie tans ’n vaste oefenprogram met ’n afrigter nie, weens sy verpligtinge vir sy matriekeksamen, maar is 10 jaar – van agtjarige ouderdom af tot onlangs – deur Myburgh van Zyl afgerig.
“Myburgh was die afgelope 10 jaar by my tennisafrigting betrokke en is ’n besonderse mentor in my lewe – ook op ’n persoonlike vlak,” sê Ruben.
Ruben het met hierdie deursettingsvermoë vir hom ’n plek in die Boland-tennisspan sowel as die Suid-Afrikaanse skolespan losgeslaan.
“Ek het die Bolandproewe in die Paarl in Januarie gewen en ook in Londen vir Suid-Afrika in die internasionale skoletennis-kampioenskap in Junie deelgeneem,” het Ruben trots vertel.
Tussen die twee tenniskampioenskappe het hy ook Pretoria toe gereis, waar hy aan die interprovinsiale tennisproewe in Gauteng deelgeneem het.
Hy is dáár weer gekies om in Europa mee te ding.
Tydens die tenniswedstryde in Londen het die Suid-Afrikaanse span “orraait” gevaar, het Ruben verduidelik’
“[Dit was] merendeels weens die uitdagende omstandighede van die kleibane waaraan die Suid-Afrikaanse skole-tennisspan gewoond moes raak.”
Ruben wil graag ná matriek alleenlik op tennis fokus, waar hy graag in toernooie wil speel. Hy wil ook by ’n tennisakademie aansluit om sy vermoëns op die tennisbaan te verbeter.
Ruben is egter nie nét die plaaslike tennisster van Hoër Landbouskool Boland nie, maar dien ook as koshuisprefek vir Huis Nico Malan.
Tydens sy grootwordjare in Wellington, waar sy ouers steeds woon, was hy en sy suster, Maria, leerders aan Hugenote Laerskool.
Hy beskryf sy gesin as “baie naby aan mekaar” en verduidelik ook dat hy buiten sy sport- en skoolverpligtinge ontspan deur tyd saam met sy gesin deur te bring.
Ruben is tans besig met sy matriekrekordeksamen en sit gereeld voor die boeke en doen naslaanwerk vir sy gekose vakke, naamlik geografie, biologie en landbouwetenskap.


