Die matriekklas van 1968 van Hugenote Hoërskool het Saterdag hul 55ste reünie in Wellington gehou. Hierdie groep oudleerders was van die 1968-matrieks wat die eerste sooi van die nuwe gebou van Hugenote Hoërskool gespit het. De Wet Burger (op skool bekend as Kuifie) het die eer gehad om die eerste sooi te spit. Buiten Jefffey Perlman, wat uit New York teenwoordig was, was destydse klasmaats van so ver as Pretoria, die Oos-Kaap, Mosselbaai, Victoria-Wes, Napier en Franskraal sowel as ander uit die omgewing ook daar. Johann Enslin, wat die skool verteenwoordig het, het almal welkom geheet en die oudleerders kon na ’n opname luister van die skoolkoor wat die skoollied sing. Burger het die voorreg gehad om ’n geraamde foto van die 1968-matriekklas aan Enslin te oorhandig om by die skool se versameling te voeg. Burger is ’n boorling van Wellington en woon nog op sy plaas net buite die dorp.