Haweloses en rommel het glo bygedra tot die verstopte wateruitlaatpyp van ’n dam in die Bo Dal-omgewing, wat voorverlede week gedreig het om sy oewers te oorstroom.
’n Bekommerde Newton-inwoner het Paarl Post ingelig oor die verstopte wateruitlaatpyp, wat daartoe bygedra het dat water oor die damwal tot in die strate van Newton gespoel het.
“Hulle sê die tikkoppe slaap in die pype, en toe die reënwater afkom, het een van hul matrasse die wateruitlaatpyp van die dam in Bo Dal-pad verstop. Dit het veroorsaak dat die dam vinniger vol geloop het en die water het oor die damwal geloop en in mense se huise beland. Dit is wat die polemiek veroorsaak het. Die munisipaliteit was by die dam en hulle het assessments kom doen en die damwal versterk.”
Navrae oor die beweerde aksies van haweloses wat moontlik tot die verstopte uitlaatpyp bygedra het, is aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig. Louis Pienaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het só gereageer:
“Met die Drakenstein-munisipaliteit-amptenare se aankoms by die terrein op die Bo Dal-pad het hulle die dam ondersoek en vasgestel dat die watervlak binne ’n paar sentimeter van die walkruin gestyg het.
“Daar is toe vasgestel dat die oorloop van die dam die hoofoorsaak van die stormwaterprobleme in Newton was. By nadere inspeksie is vasgestel die stormwaterinlaat aan die bopunt van Hoop- en Aurorastraat is geblokkeer. Munisipale stormwaterspanne is na die gebied gestuur en die verstopping is opgeruim. ’n Beduidende hoeveelheid rommel is verwyder – insluitend ’n matras – wat die druk op die stormwateroorloop verlig en die risiko van plaaslike oorstroming van huise verminder het.
“Sover die munisipaliteit kon vasstel, was daar geen hawelose mense in die omgewing nie; daarom is geen hawelose mense uit hierdie gebied verwyder nie,” sê Pienaar.
Paarl Post het ook met Mandie Erasmus van Heart NPO, ’n organisasie wat nou saam met haweloses werk, gesels. Sy sê die meeste mense in die strate van die Paarl is mense wat uit die einste dorp se armste gemeenskappe kom.
“Om welke rede – of hulle grootgeword het in huise sonder ’n pa, met trauma in die huis, dwelmmisbruik, gangsterism, seksuele molestering en daardie soort van issues [eindig hulle buite in die straat]. Baie mense kan nie in hul gemeenskap bly nie. Baie mense maak foute en is nie veilig in hul gemeenskap nie en baie mense kry eenvoudig net nie werk nie.
“As gevolg hiervan kan daar nie nog ’n honger mond wees wat op die huisgesin se nek lê nie. As hulle nie ’n bydrae kan lewer nie, eindig hulle in die strate in die Paarl.
“Daar is regtigwaar ’n groot dringendheid dat sosiale en maatskaplike dienste in die gemeenskappe verskerp word en meer vryelik in die Paarl beskikbaar is. Hawelose mense kom almal uit ’n huis iewers. Hulle het nie net uit die lug geval en op die sypaadjie beland nie.
“Hierdie is kwessies en probleme wat in die gemeenskap aangaan – dwelmhandelaars, bendes wat al jonger kinders begin intrek, en dwelmmisbruik in skole.
“Daai soort goed moet aangepak word en die diensverskaffers wat spesifiek daarmee werk, moet hul dienste verskerp en mense hê wat in die gemeenskap werk en nie net êrens in ’n kantoor sit nie.”
Erasmus lê klem daarop dat die Paarl baie swak toegerus is om hawelose mense te help om uit hul haweloosheid te ontsnap.
“Die meeste maatskaplike werkers hier sal vir jou off the record presies dieselfde sê. Hier is nie gefinansierde rehabilitasiesentrums nie, hier is nie genoeg ouetehuise nie, hier is nie enige fasiliteite vir mense met geestesversteurings nie, hier is nie fasiliteite vir mense wat fisieke gestremdhede het nie,” sê Erasmus.
“So, as ’n familie nie met so iemand in die huis kan cope nie, eindig daai mens op straat.
“En baie kinders sit hul ouers uit, want die ouers is nie meer goed genoeg nie. Waarheen moet hulle dan gaan as daar absoluut geen fasiliteite is nie en jy word soos ’n hond by jou eie huis weggejaag of behandel?
“[Die owerhede] sal daadwerklik moet optree om geriewe te voorsien wat diegene wat dit nodig het, kan help. Dan sal jy reeds sowat 20% van die mense uit die Paarl se strate kan kry.”