Die Maties het Saterdag op die Coetzenburg-veld in Stellenbosch gewys waarom hy by die jaarlikse nasionale klubkampi­oenskap as kampioen gekroon is toe die span die Paarl-krieketklub in die eerste ronde van die Bolandse Premierliga-kompetisie met 66 lopies oortuigend geklop het.

Paarl se afrigter, Manfred de Kock, is egter tevrede met die positiewe aspekte van sy span se vertoning, en voel “die liga word nie in Oktober gewen nie”.

Paarl het verkies om eerste te boul en het, met die telling op 165/8, ’n stewige houvas op die wedstryd gehad. Valentine Kitime (32 van 34 balle) en Anda Dilima (30 van 41 balle) het egter tot die studente se redding gekom met aanvallende kolfwerk in die laaste paar boulbeurte.

Vroeër het die aanvangs­kolwer Ruan Terblance (50, 5×4, 1×6) en Lehan Botha (35, 4×4) en Josh Stocks (37, 5×4) goed gekolf om te sorg dat die studente 235 in 48 boulbeurte kry. Herschelle Poggenpoel (10-1-28-3) het die beste van die Paarlse boulers gevaar met goeie ondersteuning van Liam Muller (8-0-35-2) en die kaptein, Waylain September (10-1-33-2).

Paarl se Darryl Hendricks (41, 6×4, 1×6) het uit die staanspoor probeer wys wie is baas en sy tweedepaaltjie- vennootskap met Linley Hendricks (17) wat vroeë boulveranderings afgedwing het. Akeem Minnaar (29, 3×4) het bestendig vertoon in sy vyfdepaaltjie­vennoot­skap van 55 lopies met Poggen­poel, maar ’n paar swak houe deur topkolwers het tot hul ondergang gelei. September (34, 5×4) het verbete geveg totdat sy span vir 169 uitgeboul is. . Keegan Witten (66) het Paarl 11 se aanslag teen Maties 11 op die Parysveld gelei.

Die tuisspan het 211 lopies in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken en die besoekers vir 79 uitgeknikker.

Paarl speel eerskomende Saterdag tuis teen Malmesbury.

You need to be Logged In to leave a comment.