‘n Uitsonderlike mascarpone-kaas het die hoogste eer by die 2025 Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings ingepalm. Die mascarpone met vye en pekanneute, spesiaal vervaardig deur RFG Foods in Simondium vir Woolworths, is op Dinsdag 8 April 2025 as die suiwelproduk van die Jaar aangewys tydens die prestige-geleentheid by Eensgezind buite Durbanville.
Hierdie jaar se kompetisie, die 192ste Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe en die grootste van sy soort in Afrika, het ‘n rekordgetal van 1 110 inskrywings van 77 vervaardigers gelok. ‘n Indrukwekkende span van 103 beoordelaars van 47 maatskappye het die produkte oor drie dae noukeurig beoordeel.
Graham Sutherland, hoofbeoordelaar, het die wenproduk as “‘n ryk, soet en bederf-lekker nageregkaas” beskryf wat beïndruk met sy “wenkombinasie van vye en pekanneute saam met mascarpone” wat “‘n geur-ervaring skep wat ‘n blywende indruk laat.”
“Om as Produk van die Jaar aangewys te word in ‘n kompetisie van hierdie kaliber is die hoogste eer wat ‘n suiwelvervaardiger kan behaal,” het Sutherland bygevoeg.
Robert Sudell, Operasionele Bestuurder van RFG Foods, het gesê hulle is “ongelooflik trots” om vir die tweede keer in drie jaar die toekenning te ontvang.
“Italiaanse kase is al jare lank ‘n fokus van RFG Foods,” het hy verduidelik. “Ons kaasmakerspan, gelei deur Kerwick Boonzaaier, is ware kenners en maak kaas wat van die beste in die wêreld is.”
Die kompetisie het ‘n totaal van 114 produkte as SA Kampioene in hul onderskeie klasse aangewys, terwyl 30 produkte met die gesogte Qualité-merk bekroon is – die enigste amptelike erkenning van uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.
Fair Cape Dairies het die meeste Qualité-toekennings ingepalm met ses, gevolg deur Lactalis South Africa met vier en Fairfield Dairy met drie. Dalewood Fromage, Fairview, Klein Rivier Cheese, Ladismith Cheese en Lancewood het elk twee Qualité-toekennings verwerf.
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, wat die kampioenskappe sedert 1834 aanbied, het gesê die rekordgetal inskrywings en uitslae weerspieël “‘n innoverende bedryf en gesonde mededinging tussen groot vervaardigers en kleinskaalse entrepreneurs.”
Hierdie jaar is die tweede jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning, wat ‘n kontantprys van R50 000 insluit, aan Pamella Dzindikwa (31) van Puglia Cheese toegeken. Dzindikwa, tans produksiehoof by die maatskappy, het haar loopbaan as skoonmaker begin en het deur harde werk en toewyding tot haar huidige posisie gevorder. Die toekenning vereer jong beroepslui wat reeds ‘n beduidende bydrae tot die bedryf lewer.
Milford het die belangrikheid van samewerking tussen vennote beklemtoon om die sukses van die kampioenskap te verseker, en het verskeie borge bedank, insluitende platinum vennote IMCD South Africa en dsm-firmenich.
Linda Segalla van IMCD het gesê hulle is “trots om die SA Suiwelkampioenskappe te ondersteun as deel van ons volgehoue verbintenis tot innovasie, gehalte en vooruitgang in die bedryf.”
Die SA Suiwelkampioenskappe vier nie net die uitmuntendheid en diversiteit van Suid-Afrikaanse suiwelprodukte nie, maar ook die bedryf se belangrike ekonomiese bydrae tot die land.