Ma’s-vi-Wellington is nie net nóg ’n voedingskema nie

’n Honger kind wat op ’n dag ’n stuk brood by ’n ma van Wellington se voordeur kom vra het, het ’n groep vroue geïnspireer om ’n voedingskema, Ma’s-vi-Wellington, van stapel te stuur.


’n Honger kind wat op ’n dag ’n stuk brood by ’n ma van Wellington se voordeur kom vra het, het ’n groep vroue geïnspireer om ’n voedingskema, Ma’s-vi-Wellington, van stapel te stuur.

Hierdie groep vrywilligers het stelselmatig begin om toebroodjies en koeldrank vir kinders wat in die mindergegoede dele van Vanwyksvlei woon, uit te deel.

Die projek het nou gegroei tot ’n baie groter voedingskema in die gebied asook bedieningsondersteuning.

Administratiewe sekretaresse van Ma’s-vi-Wellington, Lizette Ferreira, sê as gevolg van al hoe meer werkloosheid en die misbruik van tik en drank in die omgewing raak die behoefte aan maatskaplike hulp al hoe groter.

“Hoewel Ma’s-vi-Wellington oorspronklik begin het as ’n voedingskema, het die massa kinders wat kos nodig het, net te veel geword. Party dae is oor die 600 kinders toebroodjies gegee.

“Ons het gevoel dat ons eerder aan die voorskoolse kind (3-6) jaar hulp wil bied, aangesien die meeste skole in hierdie omgewing voedingskemas het vir hul skoolgaande leerders.

“Ons het nou ongeveer 40 vroue en vier mans uit die onmiddellike omgewing van Egoli wat ons op ’n vrywilligersbasis help met die 200 kinders op Dinsdag- en Donderdagoggende van 09:00 tot 11:00.”

Volgens Lizette, is hulle ook nie meer net ’n voedingskema nie.

Sedert die begin van die projek is daar al honderde komberse teen die winterkoue aan hulpbehoewende gesinne uitgedeel. Op ’n deurlopende basis word klere-pakkies ook aan hul kinders gegee.

“Ons het ’n groot behoefte aan kinderklere wat in ’n goeie toestand is,” sê Lizette.

“Tassies met skoolbenodigdhede word uitgedeel aan ons kinders wat in die nuwe jaar ‘groot skool’ toe gaan.”

Aan die einde van elke jaar gee Ma’s-vi-Wellington aan 250 gesinne in hul voedingsgebied ’n kospakkie om hulle te ondersteun in die Desember-vakansie. Die bederfpakkies bestaan uit meel, rys, mieliemeel, blikkiesvleis, -vis, vrugte, soja, tee, suiker, bone, koeldrank en koekies en vele ander lekkernye.

“Ons is totaal afhanklik van donasies vanuit die gemeenskap, aangesien ons geen hulp of befondsing van die regering af ontvang nie. Die plaaslike gemeenskap ondersteun ons ongelooflik, hetsy deur brood te smeer of vrugte, indien beskikbaar, te skenk As ons iets nodig het, stuur ons e-posse aan ons databasis.

“Verskeie boere help ook vir ons deur oorskotvrugte aan ons te skenk vir ons kospakkies.”

Voorts vertel Lizette dat Ma’s-vi-Wellington ook geestelike ondersteuning aan die gemeenskap bied.

“Ons wil graag die harte van kinders en ouers verander deur hulle te leer van Jesus en Sy liefde.

“Daar is kinders wat werklik swaar kry. Ons sien kinders wat werklik honger is. En party dae is daar ’n kind wat net ’n drukkie soek.”

Die publiek kan by Ma’s-vi-Wellington betrokke raak deur hul Adopt a child-projek. Dit kos sowat R80 ’n maand om ’n kind te voed.

Enigiemand kan ook ’n kinders help deur ’n sweetpakkie en sokkies te skenk vir ’n meisie of seun tussen die ouderdom drie tot ses jaar. Of skenk R70 en die sweetpak en sokkies word namens jou vir die kind gekoop. Die publiek kan hul bydraes voor Maandag 13 Junie na die kantoor in Blignaultpark 2 (ou Colibri-handdoekfabriek) of Wellington Moederkerk se kerkkantoor bring.

Skenkings van enige van die bogenoemde projekte is ook welkom. Vir inligting bel Lizette­ by 084 368 7667, 021 864 1889 of e-pos admin.mvw@telkomsa.net of besoek hul webtuiste by www.masvirwellington.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.