Twee ma’s van Wellington is behoorlik die josie in omdat hul pleidooie oor boeliegedrag teenoor hul kinders glo op dowe ore val.

Die kinders gaan na dieselfde skool in dié dorp, maar word afsonderlik deur ander leerders geboelie.

Volgens die een ma het die situasie só erg geword dat haar negejarige seuntjie soggens te bang is om skool toe te gaan. Die ma sê toe haar seun aanvanklik by haar oor die boelies kom kla het, het sy hom nie regtig “kop toe gevat” nie.

Sy vertel van ’n voorval ná skool voor die skoolterrein terwyl die kind gewag het vir sy vervoer toe ’n groep leerders van dieselfde skool hom na bewering geteiken het.

“Die groepie kinders het bal geskop en die bal na my seun toe geskop. Hy het die bal weer na hulle teruggeskop, waarna die een hom teen die kop kom slaan het. Ek moet elke oggend sukkel om hom gereed te kry vir skool. Hy wil nie eens meer skool toe gaan nie. Ek moet hom elke keer omkoop net dat hy moet skool toe gaan.”

Die skoolhoof is in kennis gestel en die beweerde boelies se straf was detensie, waaroor die ma nie gelukkig was nie. Sy het haarself toe tot die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gewend, waar sy toe met ’n kringbestuurder gepraat het, wat ’n vergadering met die skoolhoof gereël het.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, sê die departement het opgevolg met die skool en die skool het aangedui die saak met die ouer is opgelos.

“Die skoolhoof het aangedui dat die ma nie voorheen die skool vir ’n formele navraag besoek het nie. Die distrik het die ouer aangedui dat sy die distrik moet kontak indien daar geen vordering met hul saak met die skool is nie, of as hulle nie tevrede is met die uitkoms nie.”

In ’n afsonderlike voorval word ’n 11-jarige meisie ook geboelie. Volgens die kind se ma is dit ook ’n groep leerders wat haar dogter teiken.

“Ek het al vele pogings aangewend om dit onder die onderwysers en hoof se aandag te bring. Hulle wou my in ’n stadium nie by die skool toelaat nie en ek was al selfs met die polisie by die skool.”

Die meisie se gedrag en skoolwerk het as gevolg van die geboelie agteruitgegaan en sy is baie senuweeagtig, sê haar ma.

Millicent Merton, ook ’n woordvoerder vir die WKOD, het hierop geantwoord: “Die ouer het ’n voorval van afknouery in 2023 aangemeld toe haar dogter in graad vier was. Daardie saak is afgehandel.

“Die ouer het geen voorval van afknouery in 2024 aangemeld nie. Die skool het ’n voorval hanteer van klasmaats wat die leerder daarvan beskuldig het dat sy inkriminerende briewe oor hulle skryf.

“Die ouer is van dié voorval ingelig.”

You need to be Logged In to leave a comment.