Vir die kleuters van Ma’s-vir-Wellington (MvW) asook die Blouvlei Akademie lê ’n warmer en snoesiger winter nou voor nadat talle vrywilligers die mooiste komberse vir die kleuters gebrei en gehekel het. Baie van hierdie pragtige komberse kan selfs as kunswerke beskryf word.
Die bekende Wellingtonse brei- en hekelkundige Hestie van Wyk het ’n paar maande gelede ’n projek van stapel gestuur – “Knus kombers vir ’n kleuter”. Sy het onder meer ’n beroep op breiers en hekelaars op sosiale media gedoen om die breipenne te laat kletter om voor die winter komberse vir die jongspan van Ma’s-vir-Wellington te maak.
Haar verwagtinge is heeltemal oortref toe komberse van oor die hele land ingestroom het.
’n Kombers vir elkeen van die 120 kindertjies in die sorg van Ma’s-vir-Wellington is sommer gou na Wellington gepos.
Komberse het egter steeds ingestroom. Gevolglik het Hestie na Blouvlei Akademie uitgereik en vir die jongspan daar ook komberse geskenk.
Een van die besonderse gehekelde komberse is ook uitgeloot en hiermee is R2 100 vir liefdadigheid ingesamel.
Verlede Vrydagaand was die groot dag toe die komberse aan die jongspan oorhandig is.
Liza Joubert van Die Kuierstoep het vir hierdie geleentheid gasvrou gespeel en die kinders en belanghebbendes met heerlike koek en tee bederf.
’n Beoordelaarspaneel het die kreatiefste kombers tydens hierdie geselligheid gekies en volgens hulle was dit die pragtige kunswerk van Erna Thiart van Malmesbury en Liesl Siljeur van Wellington wat die koppe behoorlik laat draai het.
Hestie van Wyk het ook by die geleentheid gesê sy beoog om “Knus kombers vir ’n kleuter” ’n jaarlikse projek te maak.