Thurlow Marsh, kaptein van die Boland Kavaliers, draf eerskomende Saterdag (8 Maart) in sy 50ste wedstryd vir Kavas teen die Cheetahs by die Boland-stadion in Wellington uit.
Thurlow hoop sy 50ste wedstryd Saterdag is maar net een van vele mylpale wat hy nog by die Boland Kavaliers gaan bereik.
“Ek sien regtig uit na die naweek aangesien ek ook in my 45ste wedstryd as kaptein op die veld gaan draf, so dit gaan ’n baie spesiale geleentheid vir my wees, veral omdat dit in Wellington is,” sê Thurlow.
Die gebore Wellingtonner het twee jaar agtereenvolgens die Curriebeker Eersteliga as kaptein omhoog gehou. Hy het sy debuut vir die Boland Kavaliers as plaasvervanger op 11 Mei 2019 in ’n Supersport Rugby Challenge-wedstryd gemaak.
“In 2020, net voor Covid, is die kapteinskap aan my gebied deur die destydse afrigter, Randall Modiba,” sê Thurlow.
Hoogtepunte in Marsh se loopbaan tot dusver:
. 2023 & 2024 Curriebeker Eersteliga-kampioen;
. 2023 Boland Kavaliers se Speler van die Jaar;
. 2024 SA Cup se Voorspeler van die Jaar;
. 2024 SA Rugby-benoeming vir Curriebeker Eersteliga se Speler van die Jaar.
Die program vir Saterdag:
. 11:30 – Sanlam Boland Vroue t. Sharks Vroue;
. 15:00 – Sanlam Boland Kavaliers t. Cheetahs;
. 17:00 – Roses United t. Hillcrest United.