Ten spyte van plakkers langs die Bergrivier in die Paarl, gaan die Drakenstein-munisipaliteit voort om ’n wandelpad hier aan te bring.
Paarl Post het vandeesweek weer – die soveelste keer oor die jare – besoek by die Bergrivier afgelê en weer gesien hoe hordes mense onder die Markstraat-brug “woon”. Daar is selfs nou al strukture opgerig.
Duisende rande se skade is verlede jaar aan vesel-optiese kabels aangerig nadat ’n reusebrand onder die brug uitgebreek het.
Die brug in die Sentraal-Paarl en oor die skilderagtige Bergrivier, is al jare lank ’n twispunt en ’n plakkerskamp het al onder die brug ontwikkel.
Hope gemors lê daar rond en geen toiletgeriewe is beskikbaar nie. Die gebied rondom die plakkerskamp word openlik as toilet gebruik.
Die brug-plakkerskamp is ook ’n bekende wettelose nes waar gesteelde goedere en dwelms hande verwissel en moord en verkragting ook plaasvind.
’n Glinster van hoop het verlede week onder inwoners van die Paarl, wat hierdie gemors moet aanskou, opgevlam toe ’n konstruksiekantoor hier opgerig is – reg oorkant die munisipale hoofkantoor in die Paarl – en die gebied langs die rivier afgesper is. Inwoners het gehoop dit kan dalk ’n poging van die munisipaliteit wees juis om die gebied van Markstraat se kant af af te sper om die haweloses onder die brug te verjaag en die gebied mooi skoon te maak.
Dit was egter van korte duur.
By navraag hieroor het die direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, Seraj Johaar, gesê die konstruksiewerk oorkant die Paarlse burgersentrum behels die konstruksie van ’n wandelpad tussen Lady Greystraat en Markstraat, wat parallel met die Bergrivier Boulevard en die Bergrivier self loop.
Die projek word moontlik gemaak deur Duitse finansiering, wat deur die klimaatvennootskap tussen die Drakenstein-munisipaliteit en die Stadt Neumarkt bekom is. Dit is dieselfde stad wat die opknappingswerk van die Arboretum in die Paarl gefinansier het.
Johaar het gesê die projek is juis ’n uitbreiding van die opgraderings wat onlangs in die Paarl Arboretum gedoen is.
“Die konstruksie van die wandelpad is deel van ’n groter projek om ekologiese rehabilitering in die Bergrivier te doen.”
Die projek behels die verwydering van indringerplante op die oewers van die Bergrivier tussen Markstraat en Langstraat, Paarl; die aanplant van inheemse plantspesies om die ekologie van die rivier te verbeter; die opgradering van die tuin oorkant die Paarlse burgersentrum; asook die konstruksie van die wandelpad om infrastruktuur vir voetgangers tussen die Paarlse sakekern en siviele dienste soos die Paarlse landdroshof, die Paarlse polisiekantoor en meer te verbeter.
“Die doel van die projek is om die Bergrivier deur ekologiese rehabilitering meer bestand te maak teen die impak van klimaatsverandering en om die publiek ’n geleentheid te bied om interaksie met die Bergrivier buite die Paarl Arboretum te hê. Die projek word uitgerol tot Desember 2023.”.
- Instead of dealing with the ongoing problem of squatters next to the Berg River in Paarl, the municipality will now be constructing a walkway next to the river.