Marc Löttering is ’n brugbouer by uitnemendheid en sy jongste vertoning by die Breytenbach-sentrum se Bôrdienghuis het dit weereens onderstreep.
Min Suid-Afrikaanse kunstenaars, trouens, min Suid-Afrikaners, beskik oor sy uitsonderlike gawe om mense van verskillende agtergronde so lekker te laat saamkuier en te laat skaterlag vir hul eie en mekaar se swakhede.
’n Groot gehoor het verlede naweek na die Bôrdienghuis gestroom om na Marc Löttering te kom luister – trouens die belangstelling was so groot dat die vertoning na die vierkant voor die teaterkafee verskuif moes word om plek te maak vir almal.
Met ’n breë glimlag op sy gesig het Marc vuurwarm pyle na almal se swakhede en probleme begin afskiet. Almal het geskaterlag en deur die gelag het almal met groter begrip en met nuwe oë na mekaar begin kyk.
Marc het vertel dat hy op ’n dag vanaf sy geboortegrond, die Kaapse Vlakte, na die Atlantiese kus van die Kaap begin trek het.
Die afstand tussen die twee plekke kan jy nie, volgens hom, in kilometer meet nie – dit word in teelepels vol suiker gemeet.
Op die Vlakte gooi almal minstens ses lepels suiker in hul koffie en tee want so kon hulle in die ou dae die bitter van apartheid effens versoet. Niemand het ooit op die Vlakte van suikersiekte gepraat nie, net van diabetes en hoewel sommige ooms later net twee tone aan elke voet gehad het, was dit as gevolg van diabetes wat niks met suiker te doen het nie.
In die Kaap het die hoeveelheid suiker per koppie drasties na twee lepels gedaal en waar hy tans in Kampsbaai woon, gooi niemand enige suiker in hul koffie nie – die afstand tussen Kampsbaai en die Vlakte is ses teelepels suiker.
Marc sê ’n mens moet leer om trots te wees op wie jy is. Hy het eendag per vliegtuig na Johannesburg gereis en daar, op die lughawe, het ’n vrou met twee oulike seuntjies hom met openlike bewondering aangestaar.
Hy was opnuut trots op die feit dat hy selfs in Johannesburg bekend is.
Die vrou het hom gevra af hy saam met haar seuntjies vir ’n foto sal poseer en toe hy haar agterna vra hoe sy hom so vinnig herken het, het sy trots gesê: “Almal in Suid-Afrika weet tog wie Solly Philander is!”
Deur die aand het hy oor baie dinge gespot. Dinge soos min geld, die feit dat ’n maand so lank kan raak dat jy later gedwing word om na Bo te smeek vir ’n wonderwerk om tog net tot die einde van die maand te oorleef.
En dan kom die wonderwerke: ’n oompie sterf skielik en jy kan jou by die begrafnis nie alleen trommeldik eet op die onthaal nie, jy kan selfs iets saamneem huis toe en as dit op is, is daar alweer ’n spogtroue met ’n tamaai onthaal waarheen jy genooi word.