Die Paarl-Oos-polisie ondersoek twee moordsake nadat twee mans in twee afsonderlike voorvalle die afgelope naweek doodgesteek is.
Volgens kapt. Anthony Sauls, Paarl-Oos-polisiewoordvoerder, het die polisie Saterdag ’n klag ontvang van ’n moontlike moord in Bauhiniastraat.
Met beamptes se aankoms op die toneel het daar baie mense rondom die slagoffer gestaan wat op die grond gelê het. Hy het ’n steekwond aan sy nek gehad en is per ambulans na Paarl-hospitaal vervoer. Die jongman het dieselfde dag aan sy wond beswyk. Dit is nie duidelik wat aanleiding tot die voorval gegee het nie.
Polisiebeamptes is Sondag ook ingelig van ’n moord wat in Oleanderstraat gebeur het. Volgens Sauls was die verdagte en slagoffer in ’n stryery betrokke toe ’n messtekery tussen die twee uitgebreek het.
“Die familie het die slagoffer na die hospitaal geneem. Toe hulle by die hospitaal kom, het hulle gesien hy is reeds oorlede. Hy het ’n steekwond gehad aan sy regtersy, voor in sy bors en agter in sy rug. Die persoon wat oorlede is en die verdagte was in ’n stryery betrokke. Die verdagte het nog nie in die hof verskyn nie.”
Enigiemand wat verdere inligting het in verband met albei moorde kan die Paarl-Oos-polisie skakel by 021 877 5900.
• The Paarl East police are investigating two murder cases after two men were stabbed to death in two separate incidents this past weekend.

