‘n Groep van sowat 20 mans in stywe pers Speedo’s het die afgelope Vrydag (31 Oktober) vir heerlike vermaak in die Paarl se spitsverkeer gesorg tydens vanjaar se landwye Hollard Dare Devil Run.
Dié wedloop word deur Hollard in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) aangebied om bewusmaking te skep oor mansgesondheid, veral testikulêre en prostaat-kanker.
Dit is vir die eerste keer in 2009 gehou. Jan Marais is die mobiliseerder van die wedloop in die Paarl.
“My eie pa het aan prostaatkanker gely. Hy is nie dood daarvan nie, maar het daaraan gely.
“Ek het ook ‘n paar vriende wat, deur betyds gediagnoseer te wees, almal genees is.
“Hierdie is dus vir my ‘n saak wat naby aan die hart is en daarom het ek so drie jaar gelede my eerste Dare Devil Run stoksielalleen gedoen.
“Dit het baie guts gevat en verlede jaar het ek probeer om ‘n klompie mense bymekaar te kry. Verlede jaar was ons 14 deelnemers en hierdie jaar is daar 22 wat gaan hardloop.
“So, dit lyk vir my dit groei en dat ons baie lekker gees gaan hê vandag (Vrydag),” het Marais gesê.

Die deelnemers het by die Optenhorst Village-winkelsentrum weggespring en deur die Paarl se middedorp gedraf.
Hulle het toe weer by Optenhorst geëindig waar hulle ‘n hamburger en tjips by Spur, een van die borge, geniet het.



You must be logged in to post a comment.