’n Onbekende man wou glo onlangs sonder die toestemming van ’n paartjie hul kind in Paarl Mall afneem.


Wat net ’n vinnige uitstappie moes wees na Paarl Mall het in ’n onaangename konfrontasie geëindig vir ’n paartjie toe ’n onbekende man sonder toestemming hul kind wou afneem.

Die paartjie wat in Wellington woon verkies om anoniem te bly vir die veiligheid van hul 13 maande-oue seuntjie. Die 28-jarige vrou vertel sy en haar man het vinnig ’n draai gemaak by ’n kruidenierswarewinkel binne die Paarl Mall.

Die insident het Sondag 28 Mei gebeur.

Sy vertel dat haar man in die ry gestaan het om vir hul koeldrank te betaal terwyl sy en hul seuntjie, wat in ’n winkelwaentjie gesit het, vir hom aan die voorkant van die winkel gewag het.

“Ek het gestaan en met my seuntjie gesels. Daar het ’n man vinnig op ons afgestorm met sy foon en dit in my seuntjie se gesig gedruk, en dit het gelyk asof hy foto’s neem van my seuntjie. Ek het dadelik my hand voor my seuntjie se gesig gesit en vir die man gesê om nie foto’s te neem nie. Hy het toe net omgedraai en weggeloop.

“My man het die insident gesien en het dadelik die man gaan konfronteer.”

Die man het aan die pa ontken dat hy foto’s van sy kind geneem het, maar wel aan hom gesê dat hul kind so ‘oulik’ is. Hy het toe aangedui dat hy kamstig besig was met ’n video oproep.

Die ontstelde pa wat 13 jaar se ondervinding in die polisiediens het, het gesê dat die man se gedrag is nie net onaanvaarbaar nie, maar ook kommerwekkend.

“Wat die ouens doen is hulle video call ’n ander persoon en dan record die ander persoon die oproep. So, sou iets gebeur en die ouens word uitgevang kan mens nie bewys daar is foto’s op hulle foon nie,” voer die pa aan.

Die hulp van die winkel se sekuriteit is ingeroep, maar hulle kon niks doen en het die paartjie verwys na Paarl Mall se sekuriteit. “Hulle (Paarl Mall) is besig om die saak te ondersoek,” het die egpaar gesê.

Die voorval het nie net die mamma groot laat skrik nie, dit het haar ook getraumatiseer.

“My hele gestel is af, want as ek nie my man by my gehad nie het nie, wat dan? Want miskien het hy iemand gevideo call wat buite die mall gestaan en wag het vir my en my seuntjie om uit te gaan. Mens wil nie dink aan wat kon gebeur het nie, maar dit kon soveel leliker geraak het.

“Ek voel glad nie meer gemaklik om my seuntjie na malls of enige winkelsentrum te neem nie. Die insident het my ook meer agterdogtig gelaat oor mense se bedoelings wanneer hulle sê my baba is pragtig. Dis moeilik want jy kry altyd ou tannies wat komplimente gee en nou voel dit anders.”

Paarl Mall se sentrumbestuur het by navraag gesê hulle is bewus van die insident.

“Na ’n deeglike ondersoek deur Paarl Mall se bestuurspan, is vasgestel dat die beskuldigde op ’n regstreekse video-oproep met ’n bejaarde familielid was, en naïef vir die familielid sy omgewing en die baba gewys het. Die beskuldigde het homself aan die mall se bestuurspan bekend gemaak, sonder dat hy daartoe gevra is, en het alle beskikbare bewyse en inligting beskikbaar gestel. Ons was in kontak met die familie oor die vordering en uitkoms van die ondersoek.”

Die bestuurspan van Paarl Mall voeg verder by dat hulle die veiligheid van hul kliënte, personeel en belanghebbendes ten alle tye prioritiseer. “Ons wil kopers daaraan herinner dat die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA 2020) die opname, berging en deel van unieke persoonlike inligting en foto’s sonder formele toestemming verbied.”

You need to be Logged In to leave a comment.