’n Boer in die Bovallei-omgewing in Wellington het geringe beserings aan sy regterhand opgedoen toe hy met ’n baksteen aangeval is tydens ’n onderonsie met ’n man wat na bewering vullis in die omgewing van sy plaas gestort het.
Die voorval het vroeër die maand op die plaas, wat aan Paarl Post bekend is, in Wellington se Bovallei-omgewing gebeur.
Volgens kol. Johan Barkhuizen, polisiewoordvoerder in Wellington, is die verdagte reeds op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in hegtenis geneem.
Barkhuizen sê ’n onderonsie het glo uitgebreek toe die boer die verdagte gekonfronteer het wat glo besig was om vullis in die omgewing van die plaas te stort.
“Die klaer (die boer) is toe met ’n baksteen aangeval en sy regterhand is in die proses beseer. Hy het mediese behandeling ontvang. Die verdagte is kort daarna aangekeer weens aanranding met die doel om ernstig te beseer.”
Paarl Post het Maandag telefonies met die boer se vrou gepraat wat vir hul veiligheid nie geïdentifiseer sal word nie.
Sy sê misdaad in daardie landelike gebiede is aan die toeneem en dat dit meesal deur “tikkoppe” gepleeg word.
“Dit is mense van omliggende gebiede wat hier moeilikheid kom maak. Ons is nie die eerste plaas waar sulke soort voorvalle gebeur nie. Tik-verslawing is ’n groot probleem en dit is amper asof die polisie sukkel om hierdie mense vas te trek. Hulle (die polisie) weet wie die gereelde misdadigers is,” het die boer se vrou gesê.
Daan van Leeuwen, bevelvoerder by die Drakenstein-plaaswag, het by navraag aan Paarl Post gesê hoewel hulle nie op hierdie spesifieke voorval gereageer het nie, kan hulle waarneem dat daar algemene dwelm- en alkoholmisbruik deur mense in die Bovallei se landelike gebiede is, wat na sy mening dikwels tot misdaad lei.
“Waar daar armoede is, neem mense altyd ’n toename in die misbruik van dwelms en alkohol waar. Drakenstein het ’n werkloosheidsyfer van meer as 60%. Dit regverdig nie die misdrywe nie, maar skep ’n idee van hoe mense se maatskaplike omstandighede tot hierdie misdaad bydra.
“Die plaaswag het nie altyd die hulpbronne om op alle klagtes te reageer nie. Ons sal klagtes dikwels aan die polisie, wetstoepassers en private sekuriteit deurgee. Soms weet mense ook nie eens waar om hierdie soort misdrywe aan te meld nie.
“Ons sit met ’n situasie waar daar slegs vyf polisievoertuie vir ’n gebied van 1 500 km² toegeken word,” sê Van Leeuwen.


