Van die drank waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf


Die Wes-Kaapse polisie het verlede Donderdag (6 Junie) op vermoedelik gesteelde drank en sigarette van sowat R1,7 miljoen in Kraaifontein beslag gelê.

Die polisie vermoed van dié gesteelde goedere is deel van ’n vragmotorkaping in Klapmuts sowat twee weke gelede.

Volgens ’n persverklaring van die Wes-Kaapse polisie het die omstandighede in hierdie voorval bevestig dat die afleweringsvoertuig gedurende die kaping na ’n onbekende plek gery het.

“Die inligting oor die moontlike ontsnaproetes [vir die kapers] en moontlike pakhuise het die Wes-Kaapse geïntegreerde misdaadbekampingspan na ’n pakhuis in Burgundy Estate in Kraaifontein gelei,” luidens die verklaring.

“By dié fasiliteit het die polisiebeamptes ’n groot hoeveelheid alkohol en sigarette ontdek.”

Die buitelandse man by die pakhuis kon nie die aankoopbewys lewer nie en is daarna in hegtenis geneem weens die besit beweerde gesteelde goedere.

“Die 52-jarige staar ’n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die gesig en het op 10 Junie in die Bellville-landdroshof verskyn, waarna hy op borgtog vrygelaat en die saak uitgestel is.”

You need to be Logged In to leave a comment.