Die Paarl-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 61-jarige man verlede week deur ’n stootskraper op die R301, ook bekend as die Wemmershoekpad, doodgery is op ’n plek waar padwerke aan die gang is.
Die oorledene, Jackson Poengoeloe Nangule, was volgens sy familie op pad na die Paarl-hospitaal toe die tragiese gebeure afgespeel het.
“My oom was op pad om vir hom ’n afspraak by die Tygerberg-hospitaal deur die Paarl-hospitaal te gaan maak. Mondkanker is by hom gediagnoseer en hy moes op 29 November by Tygerberg gewees het, maar hy het daardie dag die bussie verpas wat pasiënte na Tygerberg vervoer. By Tygerberg sou dokters verdere toetse gedoen het om te kyk hoe ver die kanker is en hoe hulle hom kan behandel,” vertel Berenice Titus, wat in een huis saam met haar oom en ander familielede gewoon het.
Nangule het jare lank op Fraaigelegen-plaas langs die R301 gewoon. Hy was ’n bekende gesig in die omgewing omdat hy oudergewoonte langs dié pad gestap het waar hy tragies omgekom het.
“Hy was altyd rustig by die huis en het nie mense rondom hom gepla nie. Hy was baie lief vir lees en het elke dag ’n boek voor hom gehad,” onthou Titus.
Die oggend van die ongeluk, vertel Titus, is Nangule vroeg uit die huis terwyl die res van die familie nog gelê het.
“Die man wat ons altyd dorp toe ry en ons weer in die dorp gaan haal, het ons gebel. Hy het gesê hier is ’n ongeluk en die mense sê dis die oupa wat altyd dié pad loop. Dis toe ons geweet het dis hy, want hy het die oggend gesê hy gaan hospitaal toe.”
Die familie het hulle kort ná die oproep na die toneel gehaas, het Titus gesê.
“Toe ons daar kom, het hy nog op die toneel gelê. Dit was hartseer terwyl ons daar gestaan en kyk het hoe hy daar lê. Toe die lykswa hom kom oplaai, was dit ’n verskriklike prentjie om te aanskou, want ons het gesien hoe die harsings by sy kop uithang. Dit is baie tragies.”
Titus en nog familielede het Dinsdag (10 Desember) Nangule se liggaam by die lykshuis in die Paarl gaan uitken.
“Ons kon hom net aan die merke aan sy lyf en sy klere uitken. Sy gesig is nie oopgemaak nie.”
Anelisiwe Manyana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig die ongeluk het Donderdagoggend omstreeks 08:00 naby hek 2 van die Boschenmeer-landgoed gebeur.
Manyana het gesê met die polisie se aankoms op die toneel is ’n volwasse man, wat as Nangule geïdentifiseer is, gevind waar hy in die pad gelê het waar padwerke aan die gang is.
“Getuies beweer die bestuurder van die voertuig het agteruit gery en die slagoffer was agter die voertuig toe dit oor hom gery het.
“Die slagoffer is op die toneel deur die mediese personeel dood verklaar. Niemand is in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.”
Jandré Bakker, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur wat verantwoordelik is vir die opknapping van R301, het die noodlottige voorval bevestig.
“ ’n Ondersoek is van stapel gestuur en is nog aan die gang. Die departement van infrastruktuur kan in hierdie stadium geen inligting bekend maak nie en sal wag op die uitkomste van die ondersoek. Ons meegevoel word aan die familie van die oorledeneoorgedra.”
Navrae is aan die maatskappy Martin & East, wat deur die departement van infrastruktuur aangestel is om die opknappings te voltooi, gerig. Hulle het hierop net gesê: “Die voorval word intern en deur die departement van arbeid ondersoek. Geen kommentaar sal verskaf word totdat die uitslag gefinaliseer is nie.”
Nangule was ongetroud en het nie kinders gehad nie.
’n Kranslegging word vandag om 12:00 op die plek waar hy gesterf het, gedoen.
Nangule word na verwagting hierdie Saterdag ter ruste gelê.