Die lewelose liggaam van die man wat buite die departement van arbeid in die Paarl gesterf het.Foto: Chantélle Hartebeest


’n Man wat na raming in die laat vyftig of vroeë sestig is, is verlede Woensdagmiddag (12 Julie) dood terwyl hy in die ry by die departement van arbeid in die Paarl gewag het.

Met Paarl Post se besoek aan die toneel was die man se liggaam toegegooi met ’n laken en ’n gedeelte van die gebou is deur die polisie afgesper. Talle mense wat glo al dae lank gewag het om deur die beamptes van die departement gehelp te word, het rondgestaan op die sypaadjie nadat hulle ingelig is dat die departement eers die volgende dag weer sal voortgaan om hulle te help.

“Al wat ons, wat aan die voorkant gesit het, gesien het, is dat die oom ingekom en reguit ingestap het. Ons weet nie of hy in die badkamer was en of hy by navrae gewees het nie. Hy het ná ’n tydjie weer teruggekom en voordat hy by die hek gekom het, het hy vooroor geval. Daar waar hy geval het, het hy bly lê, want toe het sy neus gebloei en daar was bloed by sy mond, maar hy het nog gelewe vir ’n tydjie. Dit het voor 12:00 gebeur. Een van die persone sê die man is glo van Lanquedoc,” vertel een van die omstanders.

Die inwoner van die Paarl is deel van ’n groter groep mense wat dae lank buite die departement se deure slaap en wag om gehelp te word met hul werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

“Ek is al my derde dag hier, en vanaand slaap ek weer hier. My lyf is al seer geslaap. Ek het ’n suster wat bedlêend is na wie ek moet kyk,” sê nog ’n omstander.

Navrae is gerig aan die departement oor die man se afsterwe, asook oor inwoners wat kla dat hulle buite die kantoor moet slaap om gehelp te word. Sommige het ook gekla dat daar glad nie ’n ry was toe pres. Cyril Ramaphosa die Paarl op 19 Mei besoek het nie.

Jason Lloyd, ’n woordvoerder van die departement, het in sy terugvoer gesê die departement het geen besonderhede van die oorledene nie.

“Die departement van indiensneming en arbeid betuig sy medelye met die familie van die oorledene.”

In verband met mense wat dae lank in die tou staan voeg hy by: “Alle kliënte by die arbeidskantoor in die Paarl word daagliks gehelp. Die kantoor in die Paarl staan kliënte van 07:30 tot 16:00 elke dag van die week (Saterdae en Sondae uitgesluit) by. Die departement doen ’n beroep op kliënte om asseblief van die aanlynstelsels gebruik te maak eerder as om by kantore te moet toustaan. ’n Aansoek om WVF-voordele kan aanlyn ingedien word by www.ufiling.gov.za.

“Om die status van ’n WVF-voordeeleis na te gaan en / of ’n betalingsvorm in te dien kan kliënte gebruik maak van die USSD by *134*843# (geen lugtyd of data word benodig nie).

“Die arbeidskantoor in die Paarl lewer maandeliks dienste by besoekpunte, naamlik Villiersdorp, Franschhoek, Malmesbury, Moorreesburg, Cloetesville, Riebeek-Kasteel, Gouda, Saron en Porterville. Daar is permanente satellietkantore by Ceres en Goodwood.

“Kliënte word aangemoedig om van hierdie dienste nader aan hulle gebruik te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.