’n Jongman is in sy spore gestuit toe hy Maandag omstreeks 13:00 na bewering sy eie lewe by Patriotplein in Paarl wou neem.

Volgens geskokte omstanders het die man ’n tou by hom gehad wat reeds om sy nek gedraai was. Hy wou hom glo aan een van die bome op die parkeerterrein ophang.

Die dramatiese tonele het afgespeel ten aanskoue van talle mense. Een van die omstanders het nader gestap en het die tou by die jongman afgevat, terwyl ander hul selfone uitgehaal het om die gebeure af te neem.

’n Verpleegster by die Patriotplein-kliniek het met die jongman gesels, wat duidelik emosioneel en in trane was. Die polisie en ’n ambulans is ontbied, en die jongman is vergesel na die kliniek.

’n Reaksiebeampte wat ook op die toneel was, sê die einste jongman het onlangs by ’n plaaslike klerewinkel ingestap en aangedring dat die winkel aan hom behoort.

Kapt. Louise du Plessis het by navraag gesê daar is nie ’n saak geopen en ondersoek nie aangesien niemand beseer of dood is tydens die voorval nie.

Vandeesmaand word gefokus op die bewusmaking rakende selfdood.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) het tussen 20 en 50 persent van mense wat selfdood pleeg al voorheen probeer om hul eie lewe te neem.

Vir enige hulp in verband met geestesgesondheid, soos angs en depressie, en selfdood kontak Sadag by 011 234 4837 of 0800 567 567.

A young man was stopped in his tracks when he allegedly wanted to take his own life at Patriot Square in Paarl on Monday around 13:00.

You need to be Logged In to leave a comment.