Dit wil lyk asof die bedrywighede by die Wellington-nagskuiling hoofsaaklik ’n positiewe ervaring vir die meeste inwoners is, alhoewel ’n paar kreukels steeds in die strykwerk steek.
Tog spook die dood van ’n bekende hawelose, ene Bennet Meyer, in September by dié nagskuiling steeds by ander inwoners.
En al sê owerhede dat Bennet weens natuurlike oorsake dood is, meen diegene wat saam met hom in die nagskuiling gebly het dat hy eerder aan nalatigheid dood is.
“Ons het self gesien hoe Bennet aan die badkamer-handvatsel vat en minute lank geskok is deur ’n elektriese stroom. Hy het toe losgekom en omgekap,” vertel een man wat snags daar skuil.
Hy is daarvan oortuig dat die elektriese bedrading van die perseel se badkamer foutief was, en dat die Drakenstein-munisipaliteit dit ná die voorval waarin Bennet dood is herstel het.
“Ons is al almal deur die einste handvatsel geskok, maar darem nie so erg nie. Ná die munisipaliteit hier was, is dit nie meer so nie.”
Ten spyte daarvan is die dossier van Bennet se dood by Wellington-polisie as afgehandel bestempel.
“Die lykskouing het getoon dat die man weens natuurlike oorsake gesterf het. As sulks is die saak outomaties gesluit,” sê kol. Johan Barkhuizen, die stasie-bevelvoerder.
Dié lykskouing se uitslag is by navraag deur die nadoodse-ondersoeker aan Paarl Post bevestig.
Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, volhou die lykskouing het bevestig dat daar geen direkte verband is tussen die dood van Bennet en ’n elektriese skok nie.
“Geen herstelwerk is gedoen nie, maar wel ’n assessering om vas te stel of daar enige elektriese foute was wat aanleiding tot mnr. Meyer se dood gegee het,” sê Esau.
Tog spook die trauma steeds by Bennet se kamermaats. “Hy het nog die een oomblik gegrap en gesê ‘julle beter nou innie kooi kom!’ En toe sien ek hoe word hy geskok. ”
Nog ’n ding wat dié bron oor die nagskuiling pla, is die gebrek aan veiligheid.
“Ons is onseker hoe dit gebeur, maar daar was gevalle waar bendelede tot die skuiling toegang kry en tussen ons in die eenhede inkom. Van ons besittings, soos radio’s, klere en toiletware, is al deur hulle gesteel.”
Die Paarl Post het verder die strate ingevaar en met ander haweloses gesels. Twee haweloses wat gebruik maak van die nagskuiling sê hulle is hoofsaaklik tevrede met die bestuur.
“Ons word toegang tot programme gegee waar hulle ons goed leer. Ons het al geleer blomme vou om as geskenke uit te deel, en die ander dag toe leer ons oor kommunikasie. Binnekort hoort daar fotosessies te wees waar ons ID-foto’s geneem sal word,” sê die een.
Maar dié twee bevestig die kommernis oor veiligheid en onverwelkome gaste wat snags hulle spasie indring.
“Dit is bendelede wat onwettig hier inkom.”
Esau het nie kommentaar gelewer op hierdie veiligheidskwessie nie.
Hy sê wel dat fase een van die identiteitsdokument-aansoekproses, wat 22 nagskuiling-inwoners ingesluit het, reeds afgehandel is.
“Die proses word direk in samewerking met binnelandse sake bestuur.
“Die volgende dienste word infaseer as deel van holistiese en geïntegreerde benaderings tot die herstel van menswaardigheid van die inwoners.”
Esau het herhaal dat deelname aan hierdie programme en dienste vrywillig is en dat niemand gedwing mag word om daaraan deel te neem nie.
Hierdie programme sluit onder meer die volgende in en word in fases geïmplimenteer:
1. Lewensvaardigheid;
2. Berading;
3. Terapeutiese dienste;
4. Herintergrasie in die gemeenskap; en
5. Verwysings vir rehabilitasie
- Although some residents at Wellington’s night shelter is still haunted by the death of Bennet Meyer during September, many other homeless men and women are satisfied with the services offered to them. Drakenstein Municipality confirmed phase one of ID documentation of the beneficiaries has already been completed.




