Die ongelukstoneel waar Marnus Coetzee (43) onder die trekker vasgepen is.Foto: Drakenstein-plaaswag (DFW)


’n Eiendomswaardeer­der van Wellington het hom die afgelope Saterdagmiddag (30 September) lelik misgis toe hy onder die stuurwiel van ’n trekker vasgepen is, maar die voorval wonderbaarlik oorleef het.

Volgens Marnus Coetzee (43) was hy op pad om ’n trekker op sy kleinhoewe, wat in ’n “moerasland” vasgeval het, deur middel van twee penne uit te lig.

Hy het in dié poging onder die trekker beland, waar albei bene in sy regterarm gebreek is en die senuwees rondom dié bene ook vergruis is.

Sy arm was tussen die trekker se stuurwiel en die sleepwa, wat reeds afgehaak was, vasgeknyp.

Coetzee sterk nietemin goed aan en is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan, maar ’n lang pad na herstel wag op hom.

Hy het verduidelik hy was alleen op die toneel en het die oomblik toe hy onder die trekker beland het, hard om hulp begin skreeu.

Toevallig was sy vrou in die omgewing en sy het hom summier te hulp gesnel.

Die trekker se enjin het nog geloop en sy het dit dadelik afgeskakel, waarna sy verskeie nooddienste om hulp gebel het – waaronder ’n slootgrawer en die Drakenstein-plaaswag (DFW).

“Mense in omtrent 28 bakkies het baie vinnig op die toneel aangekom,” het Coetzee gesê toe hy verduidelik wie almal op die ongelukstoneel ’n hand bygesit het.

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, bevelvoerder van die DFW, wat om 17:09 die hulpkreet op sy selfoon ontvang het, is dit nie die eerste keer dat die plaaswag by só trekker-ongeluk hulp verleen nie.

Hy het verduidelik dat hy by minstens drie soortgelyke voorvalle gehelp het waar die slagoffers weens hul beserings beswyk het.

Van Leeuwen Boomkamp het bygevoeg dat die trekker deur middel van ’n hyskraan opgelig is met kettings wat aan die trekker vasgemaak is.

Volgens hom het ’n boer wat daar naby woon, met ’n ander trekker en wa die hyskraan na die ongelukstoneel gebring, waar dit die trekker om en by ses sentimeter uit die modder gelig het sodat Coetzee uitgelig kon word.

Volgens van Leeuwen Boomkamp is Coetzee met ’n ER24-ambulans na die hospitaal geneem.

Hy het die Sondag om 09:30, ’n paar uur ná die trekkerongeluk (wat Saterdag plaasgevind het) ’n operasie ondergaan.

Volgens Coetzee kan hy nie glo niks anders aan sy liggaam het seergekry nie, en hy het grappendergewys verduidelik dat hy nou met sy linkerhand sal moet “leer skryf”.

“Dit is onmoontlik om te beskryf hoe die release voel as daardie gewig van jou afgehaal word.

“Ek is vir nog ’n ronde gespaar en is baie dankbaar vir my vrou, Mareli, die DFW met al hul mediese spanne, ongelooflike bure en my familie, maar die meeste van alles vir my hemelse Vader wat my uit daardie moddergat kom red het.”

You need to be Logged In to leave a comment.