Christo Isaacs (32), ’n man van Simondium wat verlede week in hegtenis geneem is vir die moord op Geoffrey Fredericks by ’n Paarlse kroeg op 25 Augustus, is Maandag (16 September) deur die Paarl-landdroshof op R1 000-borgtog vrygelaat.
Isaacs het hom verlede Vrydag (6 September) aan die polisie oorgegee nadat hy glo vir etlike dae ná die moord vermis was.
Paarl Post het onlangs berig dat Isaacs aangekla word van die moord op Fredericks by die Frendo’s-kroeg in Jan van Riebeeckweg in die Paarl.
Hy was na bewering in ’n woordewisseling met Fredericks betrokke, waarna Isaacs hom glo met ’n mes aangeval het.
Fredericks se vriende het toe met hom Paarl-hospitaal toe gejaag.
Hy het egter met sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk, het kapt. Louise du Plessis, ’n Paarlse polisiewoordvoerder, by vorige navraag bevestig.
Die staat het Maandag aangevoer hoewel hy die hof se beslissing respekteer om R1 000 borgtog toe te staan, hy glo dat hy ’n prima facie-saak teen Isaacs het.
Volgens die staat is daar sleutel- getuienis wat Isaacs direk met die moord verbind.
Die staat het ook genoem dat hy nog wag op die uitslag van die lykskouing asook Fredericks se mediese verslag.
Beeldmateriaal van die beweerde onderonsie moet ook nog deur die staat bestudeer word.
In skriftelike getuienis wat namens Isaacs deur sy regsverteenwoordiger as deel van sy borgtogaansoek aan die hof voorgelees is, het Isaacs ontken dat hy vir die moord verantwoordelik is.
“Hoewel ek bewus is van die aanklagte teen my, stem ek nie daarmee saam nie. Ek wil nie nou die meriete van die saak bespreek nie, maar ek kan nie verantwoordelik gehou word vir hierdie moord nie.
“Ek wil die hof verder inlig dat ek ’n skoon rekord het. Ek is nog nooit vir enige misdaad in hegtenis geneem nie en het geen aktiewe lasbriewe teen my naam nie.
“Ek het ’n kind van vier jaar oud en is nie ’n bedreiging vir die samelewing of myself nie.
“Daar is ook geen rede vir my om te vlug nie,” het sy prokureur namens hom aan die hof gesê.
Familielede van Isaacs het Maandag se hofverskyning bygewoon.
Sy ma, wat in trane uitgebars het toe Isaacs die beskuldigdebank inneem, wou nie ná die hofverskyning buite die hof met die media praat nie.
Die saak is tot 18 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.
Die hof het Isaacs daaraan herinner dat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik sal word as hy nie sy volgende hofverskyning bywoon nie.


