Strukture met geskiedenis is volop in die Boland, maar soms kry dit nie die aandag wat dit verdien nie.
Pierre-Jean Gerber, wat op Malanstasie woon, het besluit om een so ’n vergete en byna verlore struktuur tot sy volle glorie te herstel.
Hy vertel hy het sowat drie weke gelede verby die Beatrix-plaasskooltjie, sowat 8 km van Wellington af, op die R44-Hermonpad gery toe hy besluit het om af te trek en om die toestand van die perseel te inspekteer. Dit is toe dat hy op die kerkkloktoring afgekom het.
“Ek was geskok om te sien hoe die struktuur op genade staan,” vertel hy. Gerber verduidelik die een been het al uitgeskuif omdat die staalheiningpale, wat die bene versterk het, geroes en krake veroorsaak het. “Dit was vir my duidelik dat die toring nie nóg ’n Bolandse winter so gaan oorleef nie,” sê hy.
Gerber het toe besluit om die struktuur te red en hom tot die sosiale media gerig om die geskiedenis daarvan vas te stel.
Hy vertel die hewige terugvoering het hom verbaas, maar wys uit dat veral plaaswerkers hom gekontak het.
Wellington-historikus Christene Siebritz het hom gekontak en vir hom ’n koerantberig gegee wat op 6 Junie 1952 gepubliseer is. Dié berig, uit Die Bolander, vertel hoe ds. J.M. Breedt besluit het dat daar ’n tekort aan ’n gemeente was vir die plaaswyk in 1931.
Die gebou was destyds ’n winkel, maar was op dié tydstip ongebruik. Breedt het dit gehuur met die opsie om dit oor ’n jaar te koop.
Ongelukkig was die kerk finansieel swak daaraan toe en was nie in staat om die gebou te koop voor die koopopsie verval het nie. Dit is toe dat ’n aanliggende boer, Willie Joubert, hom gekontak het om die probleem op te los.
Joubert se eerste vrou, Beatrix, is kort voor dit dood en sy het in haar testament geld vir die kerk gelos.
“En so is die grond met die winkeltjie gekoop en oom Willie het nog gereël dat die perseel groter gesny word,” vertel Gerber.
Hy vertel ook Joubert en sy kinders het nog geld bygesit om die gebou te vergroot sodat dit as ’n skool en kerk kon dien. Dit is toe in 1933 na Joubert se oorlede vrou die Beatrix-gebou en die Beatrix-plaasskool vernoem.
“Die erfenis van die kerkkloktoring is enorm,” meen Gerber. Hy sê soos wat hy en sy helpende hande, André ‘Pietie’ Small, Japie Arnolds en Calvin Pietersen, die gebou reggemaak het, het stories uitgekom oor toe die kerkklok die dorp se kinders wakker gelui het op Sondae-oggende.
“Dit was ’n voorreg om deel van die projek te kon wees en hopelik hou die kloktoring vir nog ’n eeu,” voeg hy by.
• The Boland area celebrates and abundance of buildings rich in history, but sometimes they don’t get the attention it deserves. Pierre-Jean Gerber, who lives in Malanstasie, has decided to restore the bell tower of the Beatrix farm school.