Die vinnige reaksie deur die Paarl- en Wellington-polisie in samewerking met die Drakenstein-plaaswag en private sekuriteit het gelei tot die inhegtenisneming van man wat Woensdag (5 Maart) ’n plaashuis naby die Bo-Dal-pad in die Paarl beroof en glo met minstens twee vuurwapens weggekom het.
Die man, wie te voet van die toneel af gevlug het, is naby die Dal Josafat Primêre Skool aangekeer waar ’n skietery tussen hom en die polisie uitgebreek het.
Hy is in die voet gewond en op die toneel deur die Drakenstein-plaaswag se vrywillige noodpersoneel behandel.
Die Drakenstein-plaaswag het in ’n verklaring gesê die verdagte het na bewering ’n vrou tydens die beweerde rooftog aangerand.
“Veiligheidswagte van die FADT-sekuriteitsdienste was eerste op die toneel en het die area gefynkam. Die verdagte het op hulle begin skiet.
“Hulp van die Paarl- en Wellington-polisie, die polisie se honde-eenheid, AfriForum-buurtveiligheid en ander veiligheidsmagte is toe ontbied,” lui die plaaswag se verklaring.
Die plaaswag het nie bevestig of daar beslag gelê is op die vuurwapens wat glo gesteel is nie.
Die polisie en ander dienste was teen 14:00 Woensdagmiddag steeds op die aktiewe misdaadtoneel.
Paarl Post het uitgereik na die Paarl-polisie wie se kommentaar later bygevoeg sal word.
* Hierdie is ’n ontwikkelende storie.