Christo Isaacs, ’n 32-jarige man vermoedelik van Kylemore op die Helshoogtepas buite Stellenbosch, is die afgelope Vrydagaand in hegtenis geneem vir die moord op Geoffrey Fredericks (32) by die Frendo’s-kroeg in die Paarl Sondag 25 Augustus in die oggendure.
Paarl Post verneem dat Isaacs enkele dae nadat hy glo Fredericks met ’n mes by die kroeg aangeval het, spoorloos verdwyn het.
Sy gesin het hom toe as vermis aangemeld en ’n gesamentlike soektog deur die Paarl- en Groot Drakenstein-polisiekantore het tot sy inhegtenisneming gelei.
Hy het Maandag (9 September) in die Paarl-landdroshof op ’n voorlopige aanklag van moord verskyn.
Die Groot Drakenstein-polisiekantoor, waar hy as vermis aangemeld is, het verlede week telefonies aan Paarl Post bevestig dat ’n saak van ’n vermiste persoon vir iemand uit die omgewing aanhangig gemaak is.
Die polisie wou egter nie uitwei oor die persoon se identiteit of die omstandighede rondom sy verdwyning nie.
Fredericks, ’n pa van drie kinders van wie die jongste dogtertjie maar twee jaar oud is, het daardie Saterdagaand saam met vriende by die kroeg gaan kuier.
Hy was volgens ooggetuies in ’n woordewisseling met Isaacs betrokke, waarna Isaacs hom na bewering met ’n mes aangeval het.
Sy vriende het toe met hom Paarl-hospitaal toe gejaag. Hy het egter met sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk, het kapt. Louise du Plessis, ’n Paarlse polisiewoordvoerder, by vorige navraag bevestig.
Sy gebroke ma, Magdalena Fredericks, het in daardie stadium aan die koerant gesê dat haar seun glo drie keer in die bors en ook naby aan een van sy slagare met die mes gesteek is.
“Wat ek wel kan noem, is dat my kinders, so groot gebou soos wat hulle is, nie die baklei-soort is nie.
“Hulle is grootgemaak om altyd konflik te vermy.
“Ek verstaan dat hy nie eens terugbaklei het nie. Hy het die man om verskoning gaan vra vir ’n misverstand en dis toe hy aangeval is,” het sy vertel.
Geoffrey is die afgelope naweek ter ruste gelê.
Hy was een van drie broers.
Sy oudste broer is in die polisiediens in Pretoria en sy jonger broer, Roderick Fredericks, is ’n bekende basketbal- en netbalspeler vir Suid-Afrika se nasionale netbalspan wat onlangs goud vir die land by ’n Afrika-toernooi gewen het.
Geoffrey was nie net ’n kranige rugbyspeler vir onder meer die Young Peoples Rugby- en Sokkerklub in die Paarl nie, maar het ook ’n musikale kant gehad.
Hy het graag klavier gespeel en was deel van sy kerkkoor.
Die motief vir die aanval is steeds onbekend.
Isaacs bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 16 Oktober.