’n 31-jarige man het Dinsdag (11 Junie) in die Paarl-landdroshof verskyn nadat hy oor die naweek vir die moord op ’n 2 maande oue baba deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem is.

Paarl Post verstaan dat die voorval Saterdag (8 Junie) in die omgewing van die Paarlberg plaasgevind het.

Volgens sers. Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, word die omstandighede rondom die voorval nog ondersoek.

Twigg sê die Paarl-polisie is Saterdag na die toneel in Bergstraat ontbied.

“Die polisie in die Paarl het ’n moorddossier oor die naweek geopen. Ons kan bevestig dat ’n verdagte, ’n 31-jarige man, in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Hy het Dinsdag in die hof verskyn.”

Dit is in dié stadium onduidelik wat presies tot die babaseuntjie se dood gelei het.

Twigg kon ook nie bevestig of die babaseuntjie die 31-jarige verdagte se kind is nie.

Paarl Post het uitgereik na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die provinsie, wie se kommentaar later bygevoeg sal word.

*Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Hou Paarl Post dop vir meer.

You need to be Logged In to leave a comment.