‘n 30-jarige man is dood en ‘n vrou beseer in ‘n kop-aan-kop botsing tussen twee voertuie op die R44 tussen Wellington en Hermon Maandagoggend (2 Junie).
Volgens kol. Johan Barkhuizen, woordvoerder van die Wellington-polisie, het die ongeluk omstreeks 07:00 plaasgevind.
“Die twee voertuie het mekaar reg van voor getref. ‘n 30-jarige man is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
“Nog ‘n insittende (‘n vrou) is ook beseer,” het Barkhuizen gesê.
‘n Strafbare manslag-ondersoek is deur die Wellington-polisie geopen.
Barkhuizen het bevestig dat die pad oop is vir verkeer.
Paarl Post het al verskeie kere verslag gedoen oor hierdie uiters gevaarlike pad wat die afgelope jare verskeie lewens geëis het.