“Ons wou net hê die polisie moes hom laai en hospitaal toe neem vir ‘n kalmeerinspuiting. Toe skiet hulle hom in sy rug . . .”
Só vertel Jenowin Hernies (25) se oupa nadat dié jong man, wat volgens sy familie ‘n psigiatriese pasiënt is, die afgelope Vrydag (30 Januarie) glo ‘n “episode” ervaar het en in sy lae rug met lewendige ammunisie deur ‘n Wellington-polisieman geskiet is.
Hy was sedert Vrydag in ’n koma in Tygerberg-hospitaal en het Woensdag (4 Februarie) afgesterf.
Andries Jones, sy oupa, het vir Paarl Post vertel dat dit nie die eerste keer was dat die familie die polisie ontbied het om Hernies hospitaal toe te vervoer nie.
Jones sê hy het die polisie Vrydagoggend omstreeks 02:00 na Patrysstraat laat uitkom toe Hernies moeilik geraak en die pad glo met bande versper het.
“Twee polisie-bakkies het hier opgedaag. Hulle was altesaam ses polisiebeamptes – twee vroue en vier mans.
“My kleinseun het die pad met bande versper. Toe die polisie opdaag, het hy in die erf gekom. Die volgende oomblik hoor ek net hoe skree die een polisieman: ‘Jong, skiet hom man’. Hy is toe in die lae rug getref,” vertel Jones.

Volgens Jones het hy die gebeure aanskou.
“As ek nie padgegee het nie, het hy [die polisiebeampte] my ook raakgeskiet.”
Hy sê Hernies was “geensins ‘n bedreiging vir die polisie nie”.
“Hy was binne die erf met sy rug na hulle [wat in die pad was] gedraai. My eerste vraag was dadelik: ‘Hoekom sal julle dan nou my [klein]seun wil skiet?’ ”
“Dit was nie die eerste keer dat ons die polisie laat uitkom het nie. Vorige kere sou hulle hom vasbind en hospitaal toe neem waar hy ‘n inspuiting sou kry om hom te kalmeer.”
Hy sê hy ken die polisieman wat die enkele skoot afgevuur het.
Jones vertel dat dit nie daar geëindig het nie.
“Hy het geskree weens die pyn. Hulle [die polisie] het toe ingekom en hom begin slaan. Hulle het hom gesleep tot by een van die polisiebakkies en is toe Paarl-hospitaal toe met hom.”
Hernies is volgens die familie Vrydag per helikopter na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar hy in ‘n koma is.
Volgens Jones wag die familie op die hospitaal se mediese verslag, waarna ‘n strafregtelike klagte teen die betrokke beamptes ingedien sal word.
Kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder by die Wellington-polisiekantooor, het by navraag bevestig dat die polisie Vrydagoggend omstreeks 01:30 na Blignautstraat (aangrensende straat) ontbied is.
“ ’n Saak van openbare geweld en aanranding van polisiebeamptes word ondersoek,” het Barkhuizen gesê.
Hy het nie uitgewei op Paarl Post se vrae oor die omstandighede wat gelei het tot die skoot wat afgevuur is nie.
Hierdie berig is aangepas nadat daar in die gedrukte Paarl Post van Donderdag (5 Februarie) berig is dat Hernies nog in ’n koma in die Tygerberg-hospitaal was. Sy familie het ná die koerant reeds gedruk het, die publikasie ingelig dat hy afgesterf het.






You must be logged in to post a comment.