Die bekende Paarlse sakeman en musikant, Mallies le Roux, en sy band Mallies en die Sakemanne, sal binnekort hul jongste liedjie Burgerstraat op kykNET bekendstel.
Die liedjie is Mallies se huldeblyk aan een van sy gunstelingdigters, Breyten Breytenbach.
Breytenbach, een van Suid-Afrika se mees ikoniese skrywers en digters, het in die sewentigerjare in die tronk beland weens sy teenstand teen apartheid. Daarna het hy jare lank in ballingskap in Frankryk gewoon.
Burgerstraat is juis waar Breytenbach op Wellington grootgeword het en waar die Bordienghuis vandag geleë is.
Mallies vertel dat Breyten jare gelede ’n gedig op die Le Roux-familieplaas, Groendal, in die Bovlei geskryf het wat hom na aan die hart gelê het.
“Ek wou dit toonset, maar omdat ek nie formele musiekopleiding gehad het nie en glad nie musieknote kan lees nie, was dit baie moeilik.
“Ek het ongelooflike agting vir Breyten as skrywer, digter en kunstenaar en het toe besluit om ’n lied oor sy lewe te skryf en te komponeer. Die liedjie gaan eintlik oor sy ballingskap, onskuldige tronkdae en sy nederigheid en intellek as mens.”
Mallies en die Sakemanne bestaan uit ’n groep professionele mans wat ná werktyd hul passie uitleef in musiek. Mallies beskryf hul musiek as “Alternatiewe, Afrikaanse Bolandse Blues”.
Mallies en die Sakemanne tree op 19 Augustus op by die Bordienghuis en 1 September by Die Boer in Durbanville, maar albei vertonings is reeds uitverkoop.
Gaan kyk na Burgerstraat by https://youtu.be/dQaYPErtiMQ.