Magnolia Primêr het Vrydag (8 September) op Internasionale Letterkundedag sy opgegradeerde skoolbiblioteek geopen – nadat dit vir ’n dekade nie in gebruik was nie en onder stof bedek was.
Dié skool en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus het saamgespan om die droom van ’n biblioteek op die skoolgrond weer ’n werklikheid te maak, sê René Drury, ’n taalonderwyser by die skool.
“Die biblioteek was vir tien jaar toe en dit het soos ’n stoor gestaan en niks het gebeur nie, want ons het nie hulpbronne gehad nie.
“Ons het aan die begin van die jaar besluit om weer hulpbronne met die hulp van KSUT beskikbaar te stel om ons te help met boeke en nuwe hulpbronne, en so het ons stelselmatig ’n veilige plek vir die kinders geskep, want hier is nie biblioteke naby nie, en as die biblioteek naby is, is dit onveilig vir die kinders om te stap.”
Volgens Drury is daar nou ’n periode in die rooster vir leerders vanaf gr. 1 tot gr. 6 bygewerk wat spesifiek fokus op lees. Tydens hierdie periode gaan die leerders na die biblioteek om te lees. Party leerders kies dan vir hulle ’n boek en moet dan in die rekenaarkamer gaan sit en lees omdat die biblioteek te klein is om almal op een slag te akkommodeer.
Gr. 7-leerders kry kans om ná skool boeke by die biblioteek uit te neem omdat daar nie genoeg plek en tyd in hul rooster is nie.
“Hier is ’n assistent wat heeltyd by die biblioteek is en dan kom kies die kinders die boek wat hulle wil hê en dan neem hulle die boek uit. Ons gee hulle dan ’n tyd oor hoeveel dae hulle die boeke moet terugbring. Hulle kan die boeke selfs huis toe neem.
“Ons mik hoog. Ons wil nie ’n klein biblioteek. wees nie. Volgens ons is hierdie vier mure te klein – ons mik groot. Ons wil ’n liefde vir lees onder die leerders kweek en die biblioteek net groter en groter laat groei. Dis hoekom almal se hulp waardeer sal word. Baie dankie vir KSUT se hulp natuurlik, maar hoe meer mense help, hoe beter, want lees is belangrik. Sonder lees gaan jy in elk geval nêrens kom nie.”
Drury kondig ook trots aan dat die skool nog ’n droom verwesenlik het, en dit is om hul eie webblad te hê.
“Die webtuiste was ’n droom, al vir jare, en ons het nie die hulpbronne en geld gehad om die webtuiste ’n werklikheid te maak nie. Toe het ons saam gesit en sente saamgeskraap en besluit ’n webtuiste gaan ons verder kan bring, want mense moet ons nie net hoor nie, hulle moet ons ook sien. Die webtuiste is dus van vandag af bekend en dit is ’n groot geleentheid vir ons. Die webtuiste is nou oop en dit het alle inligting, soos hoeveel leerders is hier, ons onderwysers en foto’s, natuurlik ook van die kinders.”
Lauren Kansley, ’n woordvoerder vir KSUT, sê “die projek by Magnolia is ’n geregistreerde KSUT-biblioteke-skoolprojek met die KSUT-sentrum vir gemeenskapsbetrokkenheid en werkgeïntegreerde leer”.
“Die projekdoelwitte sluit in om die vestiging van ’n bevorderlike en funksionele biblioteek by die skool te ondersteun; om biblioteekopleiding aan geïdentifiseerde skoolbiblioteekonderwysers/-personeel te verskaf; en om lees- en geletterdheidsvaardigheidsontwikkeling van onderwysers en leerders by die skool te bevorder deur geletterdheids- en leesinisiatiewe”.
Ander projekte by plaaslike skole waarby KSUT Wellington betrokke is, is Bergrivier Primêr en Dal Josafat Primêr waar daar ook biblioteke gestig is. Boekskenkings is gedoen aan Soetendal Primêr, St. Albans Primêr, Wellington Primêr, Paulus Joubert Primêr, Klein Nederburg Sekondêr, Hoërskool Wellington en die Chicago-leeskamerprojek.Besoek Magnolia se webtuiste by www.magnoliaprimer.co.za