Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling sê hy is bewus van die tekort aan maatskaplike werkers wat in verskeie dele van die provinsie ervaar word – dít nadat Paarl Post verlede week by ’n maatskaplike werker in Wellington verneem het dat die dorp en sy landelike gebiede, wat Hermon insluit, slegs vyf provinsiale maatskaplike werkers het wat elk sowat 150 gesinne moet bedien.
Die werker het ook onthul dat daar dikwels ’n tekort aan voertuie is om by veral die vergeleë landelike gebiede uit te kom.
Volgens haar bemoeilik die tekort aan genoeg werkers hul taak dikwels aangesien Wellington ’n gebied in die distrik is wat deur baie maatskaplike probleme soos gesinsgeweld, geslagsgeweld en dwelmmisbruik gekonfronteer word.
Die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling het in ’n skriftelike terugvoering aan Paarl Post erken die verhouding van maatskaplike werkers tot die bevolking in die Wes-Kaap is oor die algemeen hoër as die vasgestelde norme.
Volgens die departement het hy slegs ses voltydse maatskaplike werkers wat die Wellington-gebied bedien, maar hy noem dat daar ook ses bykomende gefinansierde poste en drie hulpwerkersposte beskikbaar gemaak is wat almal by verskeie nie-regeringsorganisasies in die veld van maatskaplike dienste ontplooi is.
“Die hoë verhouding van werker tot gemeenskap is beïnvloed deur die groei in bevolkingsgrootte, die toename in die vraag na dienste en die feit dat baie nie-regeringsorganisasies hul deure sluit.
“Ons sit ook met ’n situasie waar maatskaplike werkers die bedryf sal verlaat of emigreer weens faktore soos beperkte finansiering van die nasionale tesourie, ekonomiese probleme en dat sake dikwels uiters ingewikkeld kan raak.”
Volgens die departement het hy sedert Oktober verlede jaar drie satelliet- kantore in onderskeidelik die sentrale Karoo, Weskus en die Wynland-distrik geopen. Altesaam 394 mense is sedertdien deur hierdie satellietkantore gehelp.
Wendy Kaizer-Philander, die voorsitter van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer se staande komitee oor maatskaplike ontwikkeling, het vandeesweek by navraag gesê die bewering dat elke maatskaplike werker in Wellington sowat 150 gesinne moet bedien, is vir haar uiters kommerwekkend.
“Ideaal gesproke moet maatskaplike werkers se werkslading hanteerbaar wees om gehaltediens aan gesinne of individue te lewer. ’n Hoër werkslading kan baie oorweldigend wees – veral in gebiede wat gekonfronteer word met komplekse maatskaplike probleme soos armoede, huishoudelike geweld of dwelmmisbruik.
“Dit is noodsaaklik dat ons die uitdagings erken waardeur maatskaplike werkers onder sulke omstandighede in die gesig gestaar word. ’n Hanteerbare werklas stel werkers in staat om voldoende tyd en hulpbronne aan elke gesin te wy, sodat hulle die nodige ondersteuning kan ontvang,” het Kaizer Philander gesê.
Sy het verder gesê die wetgewer sal sy oorsigrol gebruik om verdere gesprekke met die betrokke rolspelers te voer oor hoe die “duidelike vraag na meer werkers” aangepak sal word.