Maatskaplike werker groet

“Daar is ’n tyd om jou beroep te begin en ’n tyd breek ook aan om dit af te sluit.”.


“Daar is ’n tyd om jou beroep te begin en ’n tyd breek ook aan om dit af te sluit.”

Só groet Alicia Rhode, maatskaplike werker van Kindersorg Paarl Suid-Afrika, in Mackierstraat, Paarl-Oos, wat nou haar beroep ná 25 jaar vaarwel roep. Twintig jaar hiervan het sy aan dié organisasie sonder winsbejag gewy.

Rhode is gebore as ’n nooi Laubscher op Newton, Wellington, en het haar skoolloopbaan aan Dal Josaphat Primêr en vanaf graad 4 tot graad 8 by Ebenezer Primêr skoolgegaan. Daarna het sy aan Klein Nederburg Sekondêr matrikuleer.

Sy het haar diploma in maatskaplike werk aan die Minnie Hofmeyer-kollege in 1990 in Worcester verwerf waarna sy haar in 1991 as maatskaplike werker bekwaam en byna vier jaar by Steinthal-kinderhuis gewerk het.

Hierna het sy by die Paarl-nagskuiling in Ambagsvalleistraat vir ’n jaar lank op kontrakbasis gewerk.

Vir haar om met die gemeenskap, veral met Paarl-Oos (Klein Nederburg area, Klien Drakensteinweg tot Meistraat, Chester Williams Plakkerskamp, Langvlei, Mountain View asook 28 plase) te kon werk, het vir Rhode die sagte kant van die lewe kom wys deur middel van ’n beroep waaraan sy te alle tye 100% toegewyd was.

“Dit is ook hierdie toewyding wat my gedring het om mense se persepsie rondom die beroep te verander deur voordurend ’n voorbeeld te probeer stel,” vertel Rhode.

Rhode is die afgelope 25 jaar met die polisieman Marchell (Jonty) Rhode getroud.

Die egpaar, wat steeds in Wellington woon, het twee kinders – ’n dogter, Shinique (23) en ’n seun, Roché (7).

“Ek het my passie vir mense al van ’n baie jong ouderdom af,” vertel sy.

Rhode sê sy wou nog altyd ’n beroep beklee wat haar die geleentheid kon bied om mense te help en om ’n verskil in hul lewe te kan maak sodat hulle tot hul volle potensiaal kan ontwikkel.

Vir haar was die grootste uitdaging om families te oortuig.

“Dit help so baie as jy weet dat die publiek bereid is om jou oë en ore te wees om die gemeenskap ’n beter, veiliger en gesonder een te maak.”

Min verstaan presies wat ’n maatskaplike werker doen. Wanneer iemand ’n behoefte het om sy omstandighede te verander of dit nodig is om hulp aan so iemand te verleen om dit te kan doen, tree ’n maatskaplike werker as fasiliteerder in.

Volgens Rhode is daar ’n groot toename in die aanmelding van misdade soos dwelmmisbruik naamlik tik, kindermishandeling en selfs kinderverwaarlosing wat gelei het tot die verwydering van kinders.

Sy sê dat armoede veral in Paarl-Oos ’n groot rol in kindermishandeling speel.

Volgens haar is dit sommige ouers wat byvoorbeeld werkloos is en aansoek doen om hulptoelaes en dit dan wanbestee.

“Kinders versuim om skool te gaan, sommige raak by dwelms betrokke en dit gee later aanleiding tot kindermishandeling.

“Sassa moet meer kontrolemaatreëls instel wanneer hulptoelaes uitbetaal word. In die verlede moes die biologiese ouers bewyse indien van wat hulle met die hulptoelae doen – bewyse van skoolvergaderings bywoon, rapporte van kinders wat ’n toelae ontvang asook bewyse van kliniekbesoeke,” verduidelik sy.

Verder sê sy as maatskaplike werker is dit nie altyd maklik om kinders uit die sorg van hul ouers te verwyder nie.

“Kinders word nou baie jonger weggevat, en dis veral babas, kleiner kinders en jonger tieners wat verwyder word.”

Sy sê elke geval wat sy hanteer het, was vir haar uniek en kinders verstaan nie altyd waarom hulle verwyder moet word indien hul ouers hul ouerlike verantwoordelikheid versuim het nie.

Ten slotte sê Rhode sy het altyd die leuse van Minnie Hofmeyr-kollege uitgevoer om “Diens aan God en medemense te verrigom haar in haar werk uit te leef. “Dankie aan elke mens en kind wat my pad gekruis het en vir wie ek ’n verskil kon maak,” sê sy.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.