Wat gebeur met jou minderjarige kinders wanneer jy sterf?
Dit is ’n uitkoms waaraan ek, as ’n ouer van twee minderjarige kinders – en ek glo alle ouers – nie graag wil dink nie. Tog is dit ’n werklikheid en belangrik om daarvoor te beplan.
Die volgende is van die belangrike stappe wat gedoen kan word om jou sake in orde te kry:
1. Maak seker jy het ’n geldige testament, waarin voogde vir jou kinders aangewys word. Hersien jou testament gereeld ná groot lewensgebeurtenisse, soos die geboorte van ’n kind. Dit is ook goeie praktyk om twee oorspronklike afskrifte van jou testament te hê – een kopie wat jy op ’n veilige plek hou en waar dit maklik ná jou dood gevind kan word, en die oorspronklike wat jy vir jou finansiële raadgewer of prokureur vir veilige bewaring gee. Indien jy sonder ’n geldige testament sterf, word jou bates ingevolge die Wet op Intestate Erfreg vererf. Die gevolg kan wees dat bates aan ander erfgename vererf as wat verwag is. Die intestate beredderingsproses kan ook langer neem en bykomende koste tot gevolg hê.
2. ’n Sleutelkomponent van jou testament is om ’n geregtelike voog te benoem. ’n Voog sal deur die hof aangestel word as ’n regsgeldige of biologiese voog (dus ’n ander ouer) nie bestaan nie. Die voog moet dan alle ouerskapverantwoordelikhede oorneem en, tensy ’n trust geskep is, enige bates wat die kinders geërf het, administreer totdat hulle 18 jaar oud is.
Indien bates aan minderjarige kinders sonder ’n geregtelike voog vererf word, bestaan die gevaar dat die bates na die regering se Voogdyfonds oorgedra word, waar dit geadministreer sal word totdat die kinders 18 jaar oud is. Onderhoud vir jou kinders sal van hierdie fonds geëis moet word, wat administratief intensief en tydrowend kan wees.
3. Hou die begunstigdes van jou polisse op datum en maak seker jy verstaan die beperkings ten opsigte van vererwing aan minderjariges.
4. Nog ’n manier om jou minderjarige kinders se belange te beskerm, is om in jou testament voorsiening vir ’n trust te maak. Hierdie trust staan bekend as ’n testamentêre trust, en die trustees van hierdie trust sal jou bates tot voordeel van jou kinders administreer totdat hulle 18 jaar oud is, of ’n hoër ouderdom wat jy kan spesifiseer.
Dit is dus van kardinale belang dat boedelbeplanning deel van jou holistiese finansiële beplanning vorm. Op dié manier kan jy verseker dat jy genoegsame voorsiening maak vir jou geliefdes, en verhoed dat potensieel katastrofiese gevolge op hulle wag.
Gesels met jou finansiële raadgewer om te verseker jou huis is in orde.. Lourens van Wyk CA(SA) is van PSG Wealth Financial Planning. Kontak hom by Lourens.vanWyk@psg.co.za
Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting en die voorbeelde is slegs ter illustrasie. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. Geaffilieerdes van die PSG Konsult-groep is gemagtigde finansiële diensverskaffers. RFD 728

