Nog ’n jong lewe is verlore en weer eens word ons herinner aan die dodelike risiko’s wat ons plaaslike paaie inhou. Hierdie keer het ’n talentvolle vrou in ’n noodlottige botsing op Jan van Riebeeckrylaan in Dal Josafat gesterf.
Ongelukkig is hierdie nie die eerste, of waarskynlik nie die laaste, keer wat so ’n tragedie op hierdie berugte roete plaasvind nie. Talle families het al geliefdes op dié pad afgestaan. Tog gaan die slagting voort. Die skokkende waarheid is dat elkeen van hierdie ongelukke moontlik met voldoende verkeerswetstoepassing en veiligheidsmaatreëls voorkom kon word.
Spoedbeperkings en verkeersreëls bestaan vir ’n rede, maar sonder toegewyde toesig en die handhawing van hierdie reëls bly dit net woorde op papier.
Ons verdien paaie waar jongmense en ouers veilig huis toe kan ry sonder die vrees vir ’n noodlottige ongeluk.
Dit is tyd dat ons plaaslike en provinsiale owerhede erken dat Jan van Riebeeckrylaan dringend aandag benodig. Daar moet strenger verkeersbeheer wees, spoedhobbels, meer sigbare polisiëring en bewusmakingsveldtogte om die boodskap duidelik te maak dat die wet nagekom móét word. Die verkeersowerhede moet hul verantwoordelikheid ernstig opneem om padveiligheid te verbeter.