“Ek voel leeg en asof dit nie waar is nie.” Dit is die hartverskeurende woorde van Cathleen West, die ma van Casney West wat onlangs in Paarl-Oos doodgeskiet is.
West beskryf haar dogter as ’n mense-mens en iemand wat baie omgegee het vir ander.
“Sy was ’n liewe mens gewees en sy was altyd daar vir ander mense. Sy het altyd die bietjie wat sy gehad het met ander mense gedeel. Sy was my babatjie en was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.”
Die 29-jarige Casney is op 28 Mei in Evettestraat, Smartie Town, doodgeskiet. Paarl-Oos-polisiebeamptes het die klagte omstreeks 21:45 ontvang, het kol. Wellington Stephans, stasiebevelvoerder van Paarl-Oos-polisie, bevestig.
’n Betroubare bron het aan Paarl Post gesê dat Casney glo nie opsetlik geteiken is nie. Die skietvoorval het tydens beurtkrag gebeur.
“Die skieters het glo die manspersoon met wie sy gestaan en praat het, geteiken. Hy het bo-op die groen boks (elektriese boks) gelê en sy het so voor die boks by ’n vuurtjie gestaan. Die verdagtes het verkeerd geskiet uit ’n verbygaande voertuig. Hulle het hom gemis en toe tref die koeël haar. Wie die verdagtes is en hoekom hulle geskiet het, weet ons nie.”
West vertel sy het reeds geslaap toe ’n vriendin van Casney haar kom wakker klop en haar in kennis stel van die skietvoorval.
“Ek het my na die toneel gehaas. Ek het haar rooi hare herken wat onder die duvet uitgesteek het wat oor haar gegooi was. Ek het net daar siek geraak en mense moes my help en ’n stoel bring. Toe ek haar by die lykshuis ook moes gaan uitken het, het ek ook siek geraak. Ek weet nie hoe ek Saterdag gaan maak tydens die begrafnis nie, want ek is angstig en my liggaam voel nie so gesond nie. Saterdag gaan dit nou finaal wees dat sy nie gaan terugkom nie.”
Wat nog meer hartseer is, is dat Casney ’n negejarige dogtertjie agterlaat.
“Mia was baie na aan haar ma. Sy het nog Sondag vir haar ma gesmeek om nie uit te gaan nie, en Casney het vir haar gesê sy sal terug wees voordat die krag aangaan,” vertel West.
Enkele dae voor haar dood het Casney en haar ma ook ’n diep gesprek gehad.
“Sy het my omtrent verhef en gesê ek is haar rolmodel en sy is baie lief vir my, en weet nie wat sy sal doen as ek voor haar moet sterf nie.”
’n Gedenkdiens is vroeër die week vir die 29-jarige Casney gehou. Sy word Saterdag ter ruste gelê.