’n Week nadat die vierjarige Starlin Heswick doodgery is, weet haar ma, Malony Juries, nog nie van haar kind se tragiese afsterwe nie.
Juries en klein Starlin is verlede Sondagmiddag (8 September) in Springbokstraat, Chicago in Paarl-Oos, omgery.
Volgens Chantal Lamberts, die familie se woordvoerder en Juries se niggie, het Juries en haar kleintjie oudergewoonte gaan krieket kyk, wat naby die ongelukstoneel gespeel is. Die twee het op pad terug van die krieket af die pad oorgesteek toe ’n 19-jarige man in hulle vasgery het.
“Ons het verneem die 19-jarige, wat die ongeluk veroorsaak het, het die motor uitgetoets vir ’n mechanic in Chicago en die remme was glo foutief. Hy het teen ’n geweldige spoed aangery gekom en Malony het probeer om haar dogtertjie te red. Sy het alles probeer om die kind uit die pad te stoot, maar met die probeerslag het Malony haar grip verloor en Starlin het in die lug getrek en op ’n vullishoop op die oop stuk veld langs Orleansvale Primêr beland,” vertel Lamberts.
Juries het ernstige beserings opgedoen, waaronder kopbeserings. Lamberts sê haar niggie is nog geïnkubeer. Sy het vandeesweek bevestig Juries word by die Tygerberg-hospitaal behandel en sterk goed aan.
“Dit gaan beter met Malony. Sy respond goed. Nee, die nuus is nog nie aan haar oorgedra nie. Op die regte tyd sal dit wel aan haar oorgedra word.”
Intussen is die 19-jarige Laydon Adams van strafbare manslag aangekla. Hy het verlede week in die Paarl-landdroshof verskyn en is op borgtog van R500 vrygelaat.
Adams verskyn na verwagting op 22 November weer in die hof.