Ruan van Rooyen en sy ma, Jenifer van Niekerk, is in die hiernamaals herenig.Foto: Facebook


Die hoofopskrifte oor Ruan van Rooyen se gru-ongeluk is nog vars in die vallei se geheue, en nou – minder as twee maande ná die jongman se dood – is sy ma, Jenifer van Niekerk, ook dood.

Die 45-jarige ma van Wellington is verlede Dinsdag (6 September) na haar stryd met kanker oorlede. Sy word deur ’n vierjarige dogtertjie oorleef.

Van Niekerk se oudste seun van 24 is op 14 Julie in die vroeë oggendure op slag in ’n botsing op die Malmesbury-pad net buite Paarl dood.

Haar naastes beskryf haar as iemand wat haar privaatheid gekoester het. Ten spyte daarvan het sy herhaaldelik nuusflitse gehaal toe sy etlike ure ná haar seun se begrafnis in die hospitaal opgeneem is.

’n Dagblad berig Van Niekerk het vermoedelik ’n paniekaanval ervaar toe familie en vriende in die Breezy Hill Pub, waar haar seun as kroegman gewerk het, sy lewe gevier het.

Dit was ná sy begrafnisdiens, wat vroeër die dag (Vrydag 22 Julie) in die Nederduitse Gereformeerde kerk in Wellington gehou is.

Pogings is aangewend om Van Niekerk met ’n asmapompie te behandel toe sy blykbaar gesukkel het om asem te haal. Sy is kort daarna huis toe geneem, maar is later in die hospitaal opgeneem.

Familie en vriende het versuim om enige verdere kommentaar te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.